Site hosted by Angelfire.com: Build your free website today!

Our story

Tuisblad

Somtyds, wanneer ek deur die strate van ons nuwe tuisdorpie loop en al die vreemde dinge sien, wonder ek nog: Hoe het ons hier te lande gekom? Dit is alles so onwerklik. Daar is niks hier om jou aan vas te hou nie, niks wat eers vaagweg 'n herinnering van Suid Afrika by jou bybring nie. Aan die ander kant, wanneer ek in my klaskamer besig is met 'n les, voel dit weer of ek nog altyd hier was. Dis 'n mengelmoes van gevoelens wat mens nie aan 'n ander kan beskryf nie.

So, wat het ons gedwing om alles wat vir ons lief en dierbaar is te los? Wel hier, wanneer ek by my rekenaar sit en verlang, dan kyk ek rond op die Internet. Snaaks genoeg, soek ek altyd na ietsie oor Suid Afrika. Dank die Vader daar is 'n ding soos die Internet. Hier kom ek af op baie stories van mense, Suid Afrikaners, ja, AFRIKANERS, net soos ons, wat in verskeie dele van die wêreld sit. Dan, skielik, besef ek weer hoekom ons hier sit. Nie omdat ons die avontuur gesoek het nie, ook nie omdat hierdie 'n mooier of beter plek is nie en ook nie omdat ons nie intens lief is vir ons beboorte land nie. Nee, die kruks van al die mense se stories wat ek al gelees het, ook ons s'n, kom op twee dinge neer: werk, of liewer die gebrek daarvan, en persoonlike veiligheid, weereens die gebrek daaraan.

Ek en Monica het 'n voorsprong geniet in ons lewe. Ons het beide wonderlike ouers, wat ons alles in die lewe gegee het om 'n sukses daarvan te kan maak. Ons het beide 'n goeie akademiese opvoeding gehad. Ons het albei grade en diplomas van die beste universiteit in Suid Afrika (he he!) In kort, daar was niks wat ons kon keer om 'n goeie middelklas bestaan te maak nie. Maar toe ons die lewe aanpak, wou dit net nie werk nie. Ek het van een werk na die volgende gegaan, elke keer gebeur daar iets dat ek weereens my klaskamer moet leegmaak van my persoonlike goedjies. Ek het gewonder hoekom. Monica was meer gelukkig met haar loopbaan. Maar ten spyte daarvan, het ons met 'n doodsvrees saamgeleef elke oomblik van die dag. Nêrens het ek veilig gevoel nie. Nie eers in my eie slaapkamer nie, nee ek moet sê, veral nie in my eie slaapkamer nie. Die moord en doodslag in ons land het my heeltemaal deurmekaar gemaak. Mense wat my goed ken sal weet en verstaan as ek sê, ek kon nie daarmee saamleef nie. So in terme van ons loopbaan, het dinge baie verkeerd geloop in Suid Afrika. Dis hoofsaaklik aan die politiek van die land te danke. Finansiëel was ons ook nie veel beter af nie. Ek kan myself beslis nie as 'n materialis beskryf nie, maak die feit dat iets waarvoor jy betaal het met swaar verdiende geld, net nooit aan jou behoort nie, het my ook baie bitter gemaak. Ons het menigte inbrake in ons huis gehad, soms terwyl ons geslaap het in ons slaapkamer. Ek het later maar 'n traak-my-nie-agtige houding ingeneem. Ek het goeie versekering uitgeneem, en gesteelde goed is altyd vervang binne 'n paar dae. Ons het altyd gespot en gesê, ons hoë-trou-stel was nooit ouer as 6 maande nie, dan kry ons altyd 'n nuwe een, wanneer die oue gesteel is. Op die oog af het dit my nie baie gepla nie, maar diep binne in my was daar altyd die vrees en woede. Wat sou volgende bebeur? Die versekering sou nie Monica of my kon vervang het soos hulle altyd gedweë en gewillig die hoë-trou-stel vervang het nie!

Vir 'n paar jaar het ek met die idee in my kop geloop: miskien moet ons padgee en iewers anders gaan bly. Maar vir gewone mense soos ons is die idee nie net verregaande nie maar ook heeltemal onbereikbaar. Ons kon skaars finansiëel aan die gang bly, wat staan nog oorsee gaan om 'n nuwe lewe te gaan soek. Hoe doen mens so iets? Wel, in die laaste paar maande voor ons na die daad oorgegaan het, het ek al meer paniekbevange geword, en al hoe meer ernstig navorsing gedoen. Monica was nog altyd heeltemal gekant daarteen om die land te verlaat. Maar in die laaste rukkie daar in Suid Afrika het selfs sy tot die oortuiging gekom dat dit ons enigste uitweg is. Ek het nie geweet waar om te begin nie. Maar toe gebeur alles met soveel momentum dat, as ek daaraan terug dink, dit net 'n bestemming van bo kon wees. Ons het albei aansoek gedoen vir talle onderwysposte regoor die wêreld. Van Engeland tot Dubai, van Korea tot in Japan, en natuurlik ook in Taiwan. En toe kom die oproep van Taiwan. Hulle bied my 'n pos aan en wil hê ek moet so gou as moontlik begin. Wat 'n nagmerrie. Ons het die heeltyd gewag en gehoop vir 'n aanbod, en toe dit kom weet ons nie wat om te doen nie. Maar daar was nie 'n keuse nie, ek sou in elk geval sonder werk sit, weereens, binne die volgende maand, as gevolg van ons Onderwys sisteem. Dan wat? Nou ja, die res is geskiedenis. Ek was twee weke later op 'n vlug Taiwan toe. Monica moes agterbly vir nog 'n paar maande om haar kontrak klaar te maak. Dit was die eerste keer van dat ons saam is dat ons so lank van mekaar af weg is. Sy moes agterbly en alles uit te sorteer en af te handel. Sy het die bittere taak gehad om van al ons aadse besittings ontslae te raak. En toe alles klaar is, het sy by my aangesluit.

Hier sit ons nou. Ons is baie ongelukkig hier, die verlange is groot, maar hier kan ons 'n lewe geniet wat ons nooit andersinds sou kon nie. Die vraag is maar nog steeds: Quo Vadis? Waarheen van hier af? Ons weet ons kan nie hier bly vir lank nie. Die lewe is te vreemd, die kultuur te anders, die taal te onverstaanbaar en onleerbaar, die kos te oneetbaar. Ons hunker om terug te gaan ''huis-toe'', ons hunker na ons lewe saam met ons vriende en ons familie. Maar ons besef dan weer dat daar letterlik niks is om na terug te gaan nie, daar's geen manier vir ons om 'n bestaan te maak nie. Die gevoel is een van totale ontworteling, dis soos die gevoel van een wat alle lewensregte ontneem is. Dis die soort gevoel wat mens heeltemaal 'n hol kol op die maag gee. 

Die opsies is min. Engeland, Australië, New Zealand? Wie weet. Al wat ek wel weet, is dat ons wil "settle'', soos die Engelse sê. Ons sal maar moet sien wat die Here vir ons beplan het.

 

Opgedateer 1 Desember 2002

Ons het na sowat twee jaar in sentraal Taiwan besluit om na die stad te trek. Die lewe in die klein dorpie in Taichung was nie waarvoor ons lus was nie. Ons het baie gesukkel met blyplek en kos en sommer baie ander dinge. Ons besluit toe om die geriewe van die groot stad te probeer. Ons het begin werk soek en na twee weke het ons 'n aanbod gekry in Taipei. Dit was maar redelik senutergend, maar ons het na 'n onderhoud en tientalle besoeke alles afgehandel en ons 45 dae kennis gegee. Ons het 'n lieflike woonstel gehuur en in Oktober 2002 Taichung verlaat en ons in Shulin, 'n voorstad van Taipei gaan vestig. Ons het by ons nuwe skool begin skoolhou en was eintlik vies vir onsself dat ons nie baie lankal hierdie skuif gemaak het nie. Die lewe in Taipei is nog steeds nie dieselfde as in Suid Afrika nie, maar dit is vele kere beter as wat ons tot dusver ondervind het.

 

 

Click hier om terug te gaan na die indeksbladsy.

Hit Counter