Onder by die hotelbar het ons weer soos die vorige aand gaan sit om net rustig te verkeer. Blake kom van die suide van Amerika. Ons het lekker gesels oor rassisme. Hy voel net soos ons soms voel deurdat mense hom ‘n rassis noem net omdat hy van die suide afkom. Net toe ek wou opgaan kamer toe om te bad en gaan slaap kom daar ‘n paar ouens aan wat mense soek om saam te gaan sokkie. Hulle is ook van Contiki maar van ‘n ander bus. Die hoteleienaar het gesê dat as daar 40 mense is sal hy die ontspannings saal onder by die swembad oopmaak en musiek maak vir ons. Oorspronklik wou ons net getalle opmaak en dan weer terugkom hotel toe. Philip het al klaar gaan slaap. Charlene kan mos nie so geleentheid verby laat gaan nie, ons twee het toe lekker gedans. Soos in St. Goar het ek en sy die mense gewys hoe om vas te dans. Vir hulle is dit wonderlik dat ons so kan dans en vra of ons klasse gehad het. As hulle net SA toe gaan sal hulle monde seker oop hang by een van ons sokkies by die huis. Eintlik het selfs Charlene nie te lank gehou nie en die eerste keer toe ek sê dat ons moet gaan (so 1:30 am) het sy ingestem. Philip het nie eens gehoor toe ons inkom, bad en gaan slaap nie.
Vrydag-oggend was dit weer dieselfde storie van vroeg opstaan, ontbyt eet en in die bus klim om na die volgende destinasie te ry. Florence is in 200 BC gevestig en was voor Rome die hoofstad van Italië. Hier is baie bekende skilderye en veral beelde soos Donatello se bekende brons Davidbeeld (wat van een stuk brons plaat gemaak is) en ook Michaelangelo se marmer Davidbeeld.

Eerste is ons na die leerwinkel en het gesien hoe die ou met die leer werk terwyl hy vertel hoe om regte leer van vals leer uit te ken. Baie mooi, maar die pryse is belaglik. ‘n Klein leersakkie vir 3 golf balle kos £60!! Dit is wel met die hand gemaak en sonder gare aan mekaar gesit. In die Piazza Signoria is daar ‘n groot fontein en beelde net waar jy kyk. ‘n Replika van die Davidbeeld is ook hier in die vierkant net soos dit die eerste keer uitgestal is. Die kerk het blykbaar gladnie van die beeld gehou nie aangesien dit ‘n man totaal kaal voorstel. David het ‘n slingervel wat hy met ‘n gebuigde arm agter sy rug laat hang en met ‘n klip in die ander hand langs sy sy. Hulle kon dit ook nie verwyder nie, omdat Michaelangelo ‘n respekteerde persoon was. Hulle het toe die hele vierkant met klomp ander standbeelde gevul om dié beeld weg te steek. In die Basilica Santa Croce is die grafte van Michaelangelo en Galeleo Galelé (die sterre kundige). 24 Junie elke jaar hou hulle ‘n fees hier – Feast of St. John the Baptist. Hulle speel dan voetbal met 16 eeuse reëls en dus is daar nie reëls nie. Jy moet basies die bal van die opponent kry op enige manier. Vir die manne is dit ‘n sport om hulle manlikheid te bewys en daar is gereeld ouens dood in die wedstryd. Hulle speel op die klip plafeide plein wat met saagsels bedek word.
Die groep is hotel toe om aan te trek en reg te maak vir ‘n “Tuscany Dinner”. Die ete was baie lekker. Dit was hier die eerste keer rêrig die “Italian Stallions” teegekom het. Hulle is almal aantreklik en baie glad met die bek terwyl hulle ons bedien. Die vrouens het dit baie geniet. ‘n Vrou het ook vir ons opera gesing. Na die ete het ons direk na ‘n nagklub gegaan. Die klub is baie netjies binne en nogals groot. Daar was ‘n paar vlakke met verskillende tipes musiek. Seker die meerderheid van die mense was egter toeriste. Die DJ het elke nou en dan net geskree: Any Americans! Dan gaan hulle mal en skree. As hy vir Suid Afrikaners skree het ons 5 probeer geraas maak, maar ongelukkig was ons in die minderheid. Jammer, ons het probeer! Die laser show was ongelooflik. Dit voel of die hele gebou op die maat van die musiek beweeg. Orals was daar ook sulke platvorms waarop jy kan dans. Ons manne het ons hande vol gehad om die meisies en die “stallions” dop te hou. Ek het heel aand naby my verloofde gedans. So teen 1:30 is ons hotel toe met ‘n taxi wat die deurwag sommer vir ons gereël het.
FRANKRYK
Saterdagoggend het ons by die skewe toring van Pisa ‘n draai gemaak oppad na Nice, Frankryk. Die dorpie Pisa is baie klein en daar gaan nie baie aan nie buiten die toring. Hulle het al vele planne beraam om die toring, wat 5m vertikaal gekantel is, regop te hou. 600 Ton lood is ook al gebruik om die toring te stabiliseer. Ek het my laaste lire gebruik en T-shirts gekoop. Die pad na Nice was baie mooi. Langs die kuspad kon ons ‘n paar groot plessierbote sien. Duidelik is dié plek gesaai met rykgatte. Ons het by die hotel gekom, afgepak en ons vuil klere ingegee om te laat was. Die aand moes ons mooi aantrek aangesien ons na Monaco gegaan het om te gaan dobbel in die Casino, Monte Carlo. Die Monaco Grand Prix se roete is mos onderdeur ‘n lang tonnel. Wel bo die tonnel is die casino en die Royal Palace waar ons gaan eet het. Die ete was baie lekker. Ons het in ‘n klein klip straatjie tussen baie duur winkels gesit en eet. Dit was sig afstand van die Paleis. Daarna het ons gaan dobbel. Net sports karre staan voor die plek in lang rye. Die manne speel daar met 5000 FF (so R5000) chips en nie veel kleiner nie. Die een ou speel sommer drie tafels gelyktydig en gooi hande vol chips op die tafels. ‘n Ou tannie het haarself gemaklik gemaak by die masjiene met ‘n hele laaitjie vol munte. Ek en Charlene het net met 20 FF gespeel. My 10 FF het vinnig verdwyn gegaan nadat ek so hier en daar ‘n paar munte gewen het. Charlene het egter lekker gespeel. Sy raak in vervoering as die munte in die bakkie val as jy wen. Sy het aan die einde van die aand 120 FF gewen, maar ek is seker dat as ons nie moes gaan nie, sy meer sou wen en dan alles sou verloor het. (Ek dink nie so nie Ian…..! Ons kon dalk nou miljoeners gewees het) Tussen al die ryk motors en mense voel mens sommer ook ryk. Jy kan ‘n Monaco paspoort koop vir 1 miljoen Amerikaanse Dollar. Hier is geen belasting nie, so miskien is dit die moeite werd….. as jy te veel geld het en nie weet wat om daarmee te doen nie.
Die volgende dag was ons op ons eie. Ons kon doen wat ons wou die hele dag. Nice is ongelooflik mooi en alhoewel Carlene voorgestel het dat ons met die trein Cannes toe gaan wou ons net langs die ligte blou see loop en die plek verken. Langs die see is ‘n bree sypaadtjie waar jy kan stap en waar mense roler blade ry. Die strand is soos hier in Engeland net klippies. Mens kan nie bal speel soos in SA nie. Gelukkig was die weer lekker en ons het selfs so bietjie getan. In die dorp is daar duur winkels. Hier het ons die grootste parfuumwinkel ooit, (wat ons al gesien het) gekry. Dit is onmoontlik om goed te ruik na een of twee spuite. In die algeheel het ons net rustig die plek verken en die son in ons gesig wardeer. Daar was ook baie oulike blomme stalletjies. Teen die see is hier en daar trollies wat kos verkoop. By so ‘n trollie het ek, Charlene en Jerry, Crapes gekoop. Dit is dun pannekoek waarop hulle goed smeer soos chocolade, jam en room. Die Franse is lief daarvoor en ek kan dit verstaan. Van ‘n hoë punt het ons, net voordat ons terug hotel toe is, mooi fotos geneem van die sonsondergang. Nog ‘n ding wat snaaks is, is dat die lughawe langs die see is en die vliegtuie styg oor die see op en kom langs die strand verby. Die hotel was baie naby die see. Die stort was egter baie snaaks deurdat jy in die middel van die badkamer staan, die stort vashou in een hand en met die ander hand moet jy jouself probeer was. Vanselfsprekend het ons langer as gewoonlik geneem om te stort. Heel ongemaklik as jy vir my vra. Daar by die hotel in die hawe is heelwat seiljagte gemeer.
Maandagoggend was ons oppad na Lyon. Ons het eers by Avignon gestop om bene te rek. Die dorp is omring met ‘n ou muur van 7 km (as ek reg kan onthou). Dit is seker een van die mooiste dorpies wat ek al gesien het. Ek en Charlene het lekker rustig alleen by die hoofstraat af gestap tot aan die einde van die muur. Alkante van die straat is daar bome wat regoor die straat groei. Die groep het lekker op die trappe in die son bemekaar gekom en was weer aan die beweeg na Lyon. Ek en Charlene was laas jaar deur Lyon toe ons Parys toe was. Voor Parys was Lyon die hoofstad van Frankryk. Die Romeine het die dorp meer as 2000 jaar terug gevestig. Die hotel was heel lekker, maar ons het laat daar aangekom, so alles was al toe. Dié aand is ons wel vir ‘n stap deur die dorp tot by die eetplekke. Ek was nie te honger nie, so ek het ‘n slaai geëet met ‘n sag gekookde eier en neute “Laonaise saladé”. Die vorige keer toe ons in Frankryk was, was die kos fantasties. Hulle weet hoe om kos te maak. Ek is seker die dorp kan baie meer offer, maar daar was net eenvoudig nie tyd om die plekke te besoek nie. Parys lê nog voor.
Dinsdag het ons in die pad geval na die hoofstad van Frankryk, Parys. Eers het ons by ‘n klein dorpie genaamd Fontainbleau gestop. Napoleon se paleis is hier en ons het dit gaan besoek. Hy het ‘n mooi tuin en grasperk gehad. Lekker vir ‘n game touch rugby saam met sy vriende. Die humeurige kort mannetjie het seker skrumskakel gespeel, dink ek. Die bus het die nammiddag by die hotel in Parys aangekom. Dié aand is ons deur die verligde stad gevat op Carlene se bus toer. Aangesien ek en Charlene al op so ‘n bustoer deur die stad was wou ons nie eintlik saamgaan nie, maar was bly dat ons het. Sy ken die stad baie goed en was ‘n uitstekende kommentator. Moenie vra hoekom nie, maar dit is verseker die romantieste stad in die wêreld. Die geboue is besonder mooi met die gedetaileerde versierings. Die Eiffeltoring vol flitssende liggies lyk veral mooi en is een van die dinge wat mens nie op ‘n foto kan vaslê nie, maar moet daar wees om dit te ervaar. Iets interessant is dat daar al 350 mense selfmoord gepleeg het deur van die toring af te spring. Drie (en ‘n half) mense het die val oorleef. Die verwagtende vrou het gespring en sy en haar ongebore kind het oorleef. Hy is Eiffel genoem en is nou al blykbaar 16 jaar oud. Omtrent almal was op met by die toring. Ek, Charlene en Jodie het bietjie rond gestap en nag foto’s geneem. So uur later en na ‘n lekker koffie by ‘n restaurant op die hoek van die straat was almal weer af en ons het terug gery hotel toe.
Die hotelkamer was mooi, maar baie klein. Ons het net daar geslaap en nie veel meer nie, so dit was okay. Die volgende oggend het ons ontbyt gekry wat bestaan uit ‘n crossant en koffie. Daarna is ons terug stad toe om ‘n toergids te ontmoet by Notre Dame vir ‘n toer deur Parys. Hulle het van 1163 tot 1345 aan die kerk gebou. Soos gewoonlik is die detail van die gebou ongelooflik. Op die gebou buite is daar ook bybelse stories om vir almal van die bybel te leer aangesien baie min mense daardie tyd kon lees en skryf. Daar is drie deure van versillende grotes en vorms, spesifiek so gebou aangesien hulle gedink het dat, as dit simmetries is, dit van die duiwel is. As mens nie van beter geweet het nie kon mens dink dat hulle nie iets semmetries kon bou nie en toe die storie opgemaak het. Die “flying buttresses” (die geronde geboude stutte wat die muur ondersteun) is die bekendste eksterne visuele kenmerk van die kerk . Na die toer was die res van die dag ons s’n. Met die museumkaartjie kon ons ook op gaan by die Arc de Triomphe. Dit is die wêreld se grootste verkeerssirkel met 12 strate wat daarin kom. Niemand se versekering dek hom in die sirkel nie. As mens sien hoe hulle ry is dit te verstane.

Ek het lank net daar op die Arch gestaan en gekyk hoe hulle ry. Ons het af gestap by die bekende “Champs-Élysées” straat met al die koffiewinkels waar die beroemde mense bymekaar kom. Jy moet van bo (by die sirkel) na onder stap om as iemand belangrik gesien te word. In die straat is daar bekende winkels ook soos McDonalds. Dit is egter die enigste McDonalds met wit ligte en borde aangesien die meeste van die winkels wit ligte het, ter aandenking van Mr Neon wat hier die eerste neon lig opgerig het. Ek, Charlene en Kate het aan die onderkant van die straat regs gedraai verby die Grand Palais en oor die brug. As daar ‘n fliek gemaak word in Parys en die ou en meisie soen is dit op die brug. In die agtergrond is die aantreklike versierde brug met die lampe en in die ver agtergrond is die Eiffeltoring. Dit maak ‘n baie mooi foto. Die Hotel des Invalides was in die Napoleon se tyd ‘n hotel/hospitaal vir al die manne wat in die oorloë ledemate verloor het. Die geboue is ook gebruik vir weermagstore en is deesdae die wapen Museum. Met die kaartjie kon ons ook hier ingaan. Mens het eintlik baie meer tyd nodig om deur die hele gebou rustig te loop maar soos gewoonlik was daar nie tyd nie. Die vrouens het in elke geval verveeld geword. Net langs die museum is die Rodin museum waar Die Denker beeld in die tuin staan. Die bronsbeeld is een van die min oorspronklike beelde waaraan jy selfs kan vat. Van daar is ons weer oor die Seine rivier na die Place de la Concorde. Dit is mos waar duisende koppe gerol het in die Franse Revolusie. Hier in London by Madame Taussauds is die valbyl wat Marié Antionette onthoof het. Die laaste keer wat die valbyl gebruik is vir die doodvonnis was in 1977 in Frakryk!! Om terug te keer na Parys; ons het deur die groot tuin gestap na die enorme Louvre Museum. 
Die gebou is ommenby 1200 gebou. Hulle sê as jy een minuut by elke skildery staan in die museum sal jy vir 9 maande daar wees. Leonardo se Mona Lisa is hier en ons het haar gaan opsoek. Die skildery is redelik klein. Al wat my aandag getrek het was haar siptiele glimlag. Asof sy iets wegsteek. Die ander beelde en skilderye was baie goed. Dit was die beste kuns museum waar ek al was. Mens raak moeg van rondstap van een kunswerk na die ander, maar daar is so baie om te sien. Charlene en ek het nog so paar FF gehad en wou dit spandeer. Ons het toe weg gesluip na die “Latin Quarter” waar die pryse nie so duur is nie. Eintlik het ons net lekker gestap en dinge gekyk en nie rêrig by winkels uit gekom nie. Inteendeel, ons moes terug hardloop om betyds vir die bus te wees by Place de la Concorde. Daar was egter tyd om weer twee Crape’s met chocolate sous te eet voordat ons weer op die bus geklim het. 
Die meerderheid van die mense het die aand na ‘n Caberé show gaan kyk. Die koste was te erg vir ons. Ek en Charlene het sommer daar naby die hotel gaan rond stap en ‘n plekkie gesoek om te eet. ‘n Franse restaurant was net om die draai en het baie huislik gelyk. Die kelner net nou en dan op die trappe gesit en so bietjie geskuur aan die houtreëling om dit seker later te verf. Charlene het water gevra, maar hulle het ons moeilik verstaan aangesien dit buite die sentrale stad is. Hy bring toe ‘n bottel met ligte geel vloeistof en wou dit vir ons gee. Ons het eers gedink dit is vuil water. Hy het agter gekom dat ons dink dis water en het lekker gelag. Dit was suurlemoen lekeur wat hy ons wou laat probeer. Ons het nie geld gehad daarvoor nie. Aan die einde van die aand na die bordtjie chips en die pizza het hy vir ons elkeen ‘n glasie van die lekeur op die huis gegee. Sulke ervaringe is wat die toer lekker maak. Soms is toeriste soos skape agter die voorste een en ervaar nie die kultuur van die plek rêrig nie. So leer mens van die kultuur van die mense. Die ander het die show nie so baie geniet nie. Philip en ‘n paar ander wat saam met die groot groep, maar hulle het net in die buurt daarnaby gaan eet en rond gestap. Ons het die laaste dag van die toer weer lekker geslaap na ‘n lang dag.
Vir oulaas het ons opgestaan, die sakke gepak en in die bus geklim om na die volgende destinasie te ry. Ons het noordwaarts gery tot by Kanadese “War Memorial”. Hier is blykbaar in die 2de wêreld oorlog vir weke aaneen oor ‘n stuk land van ‘n paar honderd meter bakly. Orals is daar nog diep gate soos die bomme ontplof het. Jy mag nie op die gras loop nie aangesien daar steeds bomme is wat nie ontplof het nie. Die skape loop daar rond om die oorblywende landmeine af te trap. Ons het net tien minute daar gebly en toe is ons na Calais om oor te gaan na Engeland. Die water was meer rustig as die vorige keer. Ons het lekker vir die uur en ‘n half in die sonnetjie gesit. Ek en Philip het ‘n boks bier gekoop op die ferry, aangesien dit so goedkoop is. Dit het die huis ‘n hele maand gehou. Die doane aan Engeland se kant het nie eens ons paspoorte gevra nie. Die ander bus wat ook daar getsaan het is egter gestop en almal moes uitklim om hulle paspoorte te wys. By die hotel in die stad het almal vir mekaar baai gesê. Ons drie het net vinnig huistoe gegaan, ons sakke neer gesit, gestort en weer terug gegaan hotel toe om die ‘gang’ te ontmoet vir ‘n laaste drink. As ons nie so moeg was nie kon ons seker heel aand gekuier het. Dit was lekker om weer terug te wees by die huis.
Ek het 9 films en ek dink Charlene het 5 video’s vol geneem van die 10 lande in Europa. Ons is steeds besig om dit uit te sorteer! So ‘n Europa toer sal ek aanbeveel vir enigiemand. Goed, jy hardloop baie rond, maar daar is so baie dinge gesien en ons het soveel dinge ervaar. Vir my het wêreld geskiedenis heeltemal ‘n ander betekenis aan geneem. Die geskiedenis en die stories/legendes wat gehoor is maak die verlede lewendig. Dit is verrykend. Dit is jammer SA is so ver van Europa. Baie mense, veral die hedendaagse parlement sal baie daarby baat om te kyk hoe ander lande dinge in die algemeen doen.
Oostenryk dagboek
iancharlene@hotmail.com
Thank you for visiting my page at Angelfire. Please come back and visit again!