Ons Kontici toer in Europa

Site hosted by Angelfire.com: Build your free website today!

EUROPEAN ENCOUNTRE

Die meeste mense wat op die toer sou gaan het die vorige aand by die hotel bymekaar gekom. Hulle het oor rëelings gepraat en mekaar seker so bietjie uit gekyk. Ons drie was egter die daar nie. Die toer is drie maande vooruit bespreek en betaal, so alles was volgens my afgehandel. Aangesien my ouers hier was, was dit ‘n rond gehardloop van die oggend vroeg tot die aand laat. Baie dinge moes gesien word in net vyf dae. Hulle is die oggend van die 5de April op hulle Europese toe. Eers toe het ek begin dink aan ons toer wat die volgende dag begin. Ek het sommer kontant saam gevat aangesien daar blykbaar op die bus ander denominasies gekry kon word. Die inpak het ook nie te sleg verloop nie. My groot 75 liter rugsak is vol gepak met meestal my goed en ‘n paar goed van Charlene. Sy het net een tassie gevat met haar klere – nie te sleg vir ‘n vrou nie. Dit het wel baie laat geword en ons het min slaap gekry.

Ons moes Vrydag vroeg by die hotel wees om ons sakke in te pak en vorms te teken. Die oggend was so ‘n gejaag dat ons die reisversekering-vorms by die woonstel vergeet het. Ag, ons moes net nie seerkry nie. Almal was al in die bus toe ons daar aankom. Daar was skaars tyd om in te pak voordat ons vertrek het. Op my horlosie was daar nog so 5 minute speling. Die toerleier het almal verwelkom en so bietjie gepraat oor die toer. Sy het al die rëels uit gespel en dit het sommer baie styf geklink. Sy was bietjie bossy, maar was baie deeglik ook. Sy doen dit al 7 jaar, so sy ken die belangrike plekke en die geskiedenis daarvan uit haar kop. Van die begin het almal baie goed oor die weg gekom. Die bus was baie selde stil. Met die opgewekte en harde musiek kan mens nie anders as om wakker te bly nie. By Dover het ons redelik vinnig ‘n ferry gekry en so is daar totsiens gesê vir Engeland vir 16 dae. Dis seker waar ek besef het dat ons rêrig op vakansie is. Twee ander Indiese meisies van Durban was die enigste ander Suid Afrikaners op die toer. Hulle kon net so bietjie afrikaans verstaan. Dover se wit kranse lyk die beste van ‘n afstand. Vanaf die boot kan mens ook die prentjie heeltemal op die foto kry. Die water was redelik onstuimig. Dit was baie snaaks om die mense in die gange van die boot af te sien stap, van kant tot kant soos dronk mense te slinger. Vir ons was dit skreeu snaaks, maar vir die mense wat seesiek raak was dit miskien nie so snaaks nie. Ons kon skaars iets kry om te eet voor ons weer geroep is om na die bus terug te keer. Die twee lande is so naby mekaar, alhoewel die verskil so groot is. ‘n Bekende militant het op ‘n tyd gesê: “The best thing between England and France is the English Channel”. Die nasies hou duidelik nie baie van mekaar nie.

In Calais het ons toe aangeland en aan die verkeerde kant van die pad begin ry, vir die res van die Europese toer. Naby Calais is dit nie so mooi nie aangesien dit ‘n industriële gebied is. ‘n Paar kilometer ooswaarts het die lande mooier geword. België is sommer baie naby en die bus is vinnig reg deur die land. Net voor die grens van Nederland is daar gestop om bene te rek. My en Philip se ander ponde is sommer daar om geruil vir ander denominasies soos wat gedink nodig sou wees. Charlene het genoeg ponde op die bus geruil.

NEDERLAND

Die land van “bikes” en “dikes” is sommer heelwat natter as wat ek gedink het. In 1980 is CD’s hier uitgevind. Die hele plek is vol kanale en vore om die water van die landerye af weg te lei. Orals waar jy kyk is damme en poele. Meer as die helfte van die land is onder seevlak! In Amsterdam byvoorbeeld is die land 6 meter onder seevlak. Eerste was ons na die hotel toe en het afgepak. Net na ete is ons in stad toe om die naglewe te ondersoek. Ons het met ‘n boot op die kanale van Amsterdam (en die rivier Amstel) rond gery. Dit was baie lekker en seker die beste manier is om die stad in te lei. Daar is baie kanale met heelwat rivierhuise wat gemeer is langs die kant. Die rivier Amstel is opgedam en so is die dorp Amsterdam gestig. Dit is ‘n mooi stad in die aand. Daarna is ons terug na die hotel toe om te gaan slaap. Dié hotel was die heel beste van al die hotelle op die hele Europese toer. Die etes was ook lekker.

Die volgende oggend is vroeg op gestaan om te gaan fiets ry. Ek het lanklaas fiets gery, en die “back paddle” het snaaks gevoel. Ons het gery tot by die dike wat die stad beskerm teen die see. Aan die een kant van die dike sien jy snaakse plat bote wat op die water vaar en aan die ander kant is die landerye en huise ‘n hele paar meter laer as die water. Ek verstaan nie hoekom oneindige moeite gedoen word om die land droog te hou nie.
Honderde jare terug was die land nie onder water nie en daarom is die grond so gesog. Orals is daar tulpe te sien en die omgewing lyk baie mooi en versorg. Ons het ook gestop by ‘n windmeul wat in die ou dae die watervlak van die kanale beheer het. Die hele gebou kan opgeslaan word en verskuif word na ‘n ander plek as dit nodig was. Daarna is ons ook na ‘n kaasfabriek en ‘n werkswinkel waar die ou vir ons gewys het hoe om klompe te maak. Hy het ‘n stuk hout gevat en begin skaaf en sny totdat mens agterkom dat dit ‘n skoen is. Sy gereedskap is baie skerp en ek dink ook hy het dit al voorheen gedoen aangesien dit gladnie lank gevat het voordat die skoen klaar was nie. Hulle speel selfs tennis in die skoene! In die oulike winkeltjie kon mens kies van honderde klompe van alle grotes en kleure. Egter nie my styl nie. Die meisies in die winkel was geklee in tradisionele kleredrag en het met ‘n semi-Afrikaanse aksent gepraat…. of so het ek my verbeel.

Na ‘n besoek aan die diamantwinkel en ‘n demonstrasie hoe diamante geslyp word, kon ons op ons eie die stad verken. Ek, Charlene en Philip was by die Van Gogh Museum in. Ons het gekyk na sy bekende sonneblomme en ander van sy skilderye. Toe die een skildery soos die ander begin lyk, het ons na die honderde markies in die straat gegaan. Baie groente, vrugte, vis, ander kos en klere is hier te koop. Ander vriende is ook hier raak geloop. Nadat chips met mayonnaise geniet is, was ons na die Coffee Shop toe. Onthou! Dié winkel is nie vir koffie nie. Vir koffie gaan jy na ‘n kafee toe. By die Coffee Shop kry jy ‘n menu van watter tipe dagga jy wil hê. Glo my, daar is ‘n groot verskeidenheid. Die ander het 10 gram gekoop om later met sigaret te meng en te rook. Die hoeveelheid is so min dat dit jou nie eers sal affekteer nie, dink ek. Oppad terug na die ontmoetingspunt is eers by die blomme stalletjies verby geloop. Ek het nog nooit so baie, mooi en perfekte blomme gesien nie. Terwyl ons wag vir die res van die groep het ek gesien hoe ‘n groep van drie ouens die mense uitkyk om iets te steel. Daar waar ons gestaan het by die wegneem pizza’s, het die ouens toe nader gekom en die vrou, twee mense van my af, se beursie probeer steel. Sy het net verkeerd gedraai en die ou kon die beursie nie uit haar handsak uitkry sonder dat sy sou agterkom nie. Carlene, ons toer leier, is gekry en die aand is ons na die rooilig distrik. Ek het gedink dat daar so paar vensters sal wees met vrouens wat hulself vertoon. Inteendeel daar is strate en strate vol. Heel gereeld kom daar mans uit die klein kamertjies met groot glimlagte. Daar is: “Big Mamma Alley, Skinny Alley” en ander straatjies waar jy nie weet waar om te kyk nie. Ons groep was ook die aand by ‘n seks show…. ek sal niks verder daaroor sê nie!! ‘n Ander snaankse ding was, dat ouens in die straat by so half-sirkel afskorting (tipe van ‘n krip) sommer kan staan en water aflei.

DUITSLAND

Sondag ry ons toe suidwaarts deur Nederland tot in Duitsland. Die Rhine rivier is ‘n baie groot en besige rivier met groot bote. Hulle vervoer nogsteeds, soos honderde jare terug, toe die rivier belangrik was vir handel, heelwat goedere op die rivier. Teen die styl hange langs die rivier is daar wingerd-plantasies. Kastele is orals te sien op die oewers, wat in die verlede was om die rivier te beskerm. Ons is met die bus afgelaai langs die rivier en is op ‘n groot boot verder met die rivier af . Al die dorpies langs die rivier is baie mooi. Na so 45 minute se bootrit kom ons toe by die dorpie uit waar ons hotel net oorkant die pad is.

St. Goar is ‘n klein dorpie maar die winkeltjies is oulik. Eerstens is ons by die Stein Winkel in waar vertel is hoe die bierbekers gemaak word en dat elkeen ‘n storie het. Agter in dieselfde winkel het die eienaar ook ‘n groot seleksie van messe en spesefiek chef’s messe. Die een ding wat ek van die hele toer wou koop was ‘n messestel van Duitsland. Om dit daar in die klein winkeltjie te sien was egter onverwags. Hy het my na die beste messe gelei en vir my vertel dat mens nie beter messe as dit kan koop nie. Dié Wüsthof messe het ‘n toekenning vir die beste messe gekry. Natuurlik was daar messe op ‘n winskopie (baie gerieflik) en ek is omgepraat om ‘n stel van 10 kook messe + blok te koop. Op dag drie van die toer was ek toe heeltemal platsak. Oorkant die straat was daar ‘n koek-koekklok winkel met klokke net waar jy kyk. Deesdae word al die klokke in Duitsland gemaak.

Dit was ‘n mooi namiddag toe ek, Charlene en Philip die plek gaan verken. Reg bo ons hotel was ‘n groot kasteel wat in ‘n hotel omskep is. By ons hotel die aand is ons toe bedien deur dieselfde ou wat die messe aan my verkoop het. Hy het dit heeltemal ontken en het gesê dat hy my nie ken nie. Hy besit die Steinwinkel, messeplek, die koek-koekklok winkel en die hotel. Later die aand in die hotel se bar het hy vir my egter ‘n paar drankies op die huis gegooi. In die restaurant-afdeling was daar ‘n massiewe koek-koekklok van seker 1x1.5 meter groot. As jy nie van hom weet nie sal jy jou boeglam skrik op elke uur. Die hoteleienaar het die aamd vir ons baie lekker gamaak. Hy het die hele aand saam met ons gekuier en vir ons Duitse lietjies geleer. Hy het sulke klein schnaps botteltjies met lekker drank wat jy moet optel met jou lippe, drink in een sluk, en weer terugsit op die toonbank. Dan moet jy die doppie, wat teen jou voorkop geplak is, vat en oor die toonbank in ‘n boks met ‘n klein gaatjie spoeg. Hulle het die speletjie al so baie gespeel. Daar is ‘n foto wat wys hoe die toonbank tot teen die dak vol van die botteltjies gepak is. Ek was baie bly dat ons die klein dorpie besoek het en die tipiese duitse mense ontmoet het. ‘n Klomp van ons het weer die aand gestap tot bo by die hotel/kasteel. Oppad na die kasteel sien ons toe die rooi kerse op die grafte in die begrafplaas wat elke aand aangesteek word.

SWITZERLAND

Maandag-oggend ry ons toe verder suid deur Duitsland na Switserland. Hulle was die enigste mense wat ons paspoorte deurgekyk het. Die bus het eers by ‘n winkel oorkant die Hockenheim F1 renbaan gestop om te rus en iets te koop om te eet. Carlene het vertel van die Swiss wat so goed toegerus is vir oorlog. Elke man moet ‘n gelaaide wapen by die huis hê. Nasionale diensplig is ook verpligtend vir 2 jaar en hulle is op bystand vir nog 20+ jaar. In 48 uur kan Switserland ‘n weermag van 6 miljoen mense gereed hê. Elke tonnel wat langer as 1 km is, is ‘n bomskuiling. Daar is op sekere plekke in die pad groot blokke sement wat opgehuis kan word om tanks te stop. Miskien het hulle ‘n opsessie oor paraatheid, maar hulle land is mooi genoeg om bewaar te word. Alles in die dorpe is ook pynlik netjies en op hul plek. Die landskap, as ek by die venster uitkyk, lyk dit soos ‘n prentjie uit ‘n boek. Ons het in Lucerne gebly vir 2 aande. Toe ons daar aankom was ons eers op ‘n bootrit op die meer. Op die dak was die beste uitsig, maar dit was yskoud. By die bar het ek die special vir ons bestel wat hot chocolate met Baileys was. Dit het so bietjie teen die koue gehelp. Die foto’s behoort mooi te wees, so dit was die moeite werd om die koue te trotseer. Terug by die hotel het ons ‘n ete gekry wat lekker was, maar net te min. Charlene en ander malletjies het gaan draf in die koue en die reën. Omdat die busdrywer nie die volgende dag hoef bus te ry nie, kon hy kuier. Hy weet van lekker pubs in die dorp, so ‘n klomp van die ouens het gaan disco dié aand. Eers die volgende dag het hulle gehoor dat dit ‘n gay club was waar hulle gekuier het. Ek was bly dat ek nie saam was nie.

Dinsdag het ons die hele dag in die dorp spandeer. Lucerne is baie mooi en ons het die plek plat gestap. Langs die ou muur, wat die stad in die outyd beskerm het, het daar selfs “Highland” beeste met lang rooi hare gewei. Elke 2de winkel verkoop Swiss Army Knifes en die winkel langsaan verkoop horlosies. Alles is duur, maar omdat daar so daie is kan jy verseker wees om iets te kry waarvan jy hou. Ouens van Kanada wat op die toer was het vinnig aangepas en gekoop. Horlosies in die venster is tot honderde duisende rande. Jy kan ‘n huis koop met een var daardie horlosies. Die Kanadese sê dat die gemiddelde horlosie baie duurder in Kanada is. As jy ‘n mes koop doen hulle ‘n inskripsie verniet op die mes. Baie van die groep het van die messe vir geskenke gekoop. Die groep was ook saam na die “Lion Monument” en het gestap oor die ou “Chapel bridge”. Die hout brug is omtrent op elke poskaart van Lucerne.

OOSTENRYK

Woensdag-oggend was dit alweer in die pad val oppad Oostenryk toe. Langs die pad was dit weer baie mooi grasvelde met houthuisies in die middel van nêrens. Hier en daar was daar ook groot mere met mooi ligte-blou water. In Liechtenstein het ons gestop om bene te rek. Die land is net 160km² (12km x 12km) groot. Daar is ‘n koning wat in die kasteel bly reg bo die hoofstad. Hy kan die wette maak en breek net soos hy wil. Vrouens het eers in 1984 stemreg gekry. Die land is ook bekend vir hulle posseëls wat rêrig baie mooi is. Hulle sit die seëls in honderde boekies (pakkies) van verskillende motiewe en verkoop dit aan die toeriste. As jy ‘n paar Swiss Franks betaal kry jy ‘n stempel in jou paspoort om te sê jy was in die land. Behalwe dat die land ook skoon en oulike winkeltjies het, gaan daar nie veel aan nie. In Innsbruck, Oostenryk, het ons eers na die olimpiese ski “jump” gaan kyk. Hier is al 2 winter Olimpiese Speles gehou. Ons het in die dorp gestop en ‘n Kristalwinkel gaan besoek. Ander winkels was ook interessant en ek het vir my ‘n stel van 6 “tot” glasies en ‘n bottel gekoop met die Oostenrykse skuld op. Nadat ons einde Januarie naby Innsbruck kom ski het, het dit lekker gevoel om weer daar te kuier. Ek dink nou nogmeer dat Oostenryk ‘n baie lakker plek is met aangename mense. ‘n Groep van ons het nadat ons in die hotel afgepak het dorptoe gestap. Later die aand terug by die hotel het ons lekker geëet en lekker saam gekuier. Aangesien ons 49 in die groep is vat ons sommer maklik die partytjie oor. Weer soos ‘n paar maande van-te-vore het ons die “farmers schaps” probeer. Daardie goed smaak soos mampoer en net een was oor genoeg vir my. Philip is oorreed om van die barman se spesiale drankie te drink. Dit word aangemaak in ‘n staal houer (enigiets anders sal seker smelt). Voordat Philip dit gesluk het, het hy dit eers in sy mond geskommel. Dis waar hy die fout gemaak het, aangesien daar ‘n vrymoedige hoeveelheid Tobbasco sous in is. Sy oë het begin traan en sy gesig het in 5 sekondes wit geraak. Almal het lekker vir hom gelag.

ITALIë

Donderdag het ons afgery tot in Italië. In die noorde lyk die omgewing mooi, maar hoe verder jy suid ry hoe minder aantreklik lyk dit. In Venesië is ons van die vasteland met ‘n boot na die 117 eilandtjies van Venesië. Daar is oor die 400 bruggies, maar geen motors op die eilande nie. Deesdae woon daar nie meer baie mense nie omdat dit te duur is en gereeld oorspoel. Die groot plein van St. Marco is soms onder water, soveel so dat die gondolas daaroor kan ry. In die kanale lyk dit soos strate, met verkeerstekens en ligte. Daar is selfs water taxi’s. Die hele groep het op ‘n rit met die gondolas tussen die huise in die kronkelende strate gegaan. Ons het alhoewel eerstens na ‘n werkswinkel gegaan en gekyk hoe hulle glas blaas. Dit is eintlik baie vinnig alhoewel dit ‘n kuns is. Die man sê ook dat die blaas van die glas die maklikste van die hele proses is. Die verf van die glas en die oor en oor warm maak van die glas om die “golden leaf” in die glas te laat smelt, is die rêrige kuns. Daarna is ons na ‘n winkel waar vir ons gewys is hoe om kant lappe te maak. Vir sommige van die doeke werk 8 mense vir 6 maande om te voltooi. Tot oor die 300 gare word op ‘n slag gebruik. In die winkels is die glas en die kant gans te duur vir my beursie. Ons het min spandeer in Venesië. Toegang tot die Bisillica (katedraal) St. Marco is gratis. Buiten die mooi geskilderde mure en dak het die onegalige vloer my opgeval. Dit is as gevolg van die onstabiele grond waarop die hele stad gebou is. Ek, Charlene en ‘n paar ander is by die paleis in. In die paleis self is die mure en veral die dak pragrig geskilder. Standbeelde is so goed geskilder dat dit lyk asof dit rêrig daar staan. Om die waarheid te sê was die versierde kamers die mooiste van die hele toer. Van die paleis oor na die tronk is die “bridge of sigh” wat so genoem is omdat die gevonnisde mense oor die brug loop, by die venster uitkyk en sug omdat hulle weet dit is die laaste wat hulle die son sal sien skyn. Casanova is ook oor die einste brug na die kelder van die tronk. Die Rialto brug is die outste in Venesië en het winkels alkante op die brug. Om in die smal straatjies af te stap kan mens gou verdwaal. Dit is ‘n totaal unieke gevoel om in die plek rond te stap. Die gebrek aan spasie maak die ervaring besonders. ‘n Klein groepie van ons het die namiddag lekker pizza’s by ‘n restaurant geëet. Laat die aand is ons terug oor die water en na die hotel op die vasteland.

Vrydag is die bus nog verder suid na Rome. All roads lead to Rome! My eerste oogopslag van Rome was nie indrukwekkend nie. Die hotel was redelik ver van die stad en in ‘n “dodgy” area volgens my. Skaars af gelaai, is ons in stad toe. Omdat die verkeer ons bietjie op gehou het moes ons baie die aand sien in ‘n kort tydjie. Die toer van die stad het begin by die “Spanish steps, Piazza Novona, Trevi Fountain, Pantheon & Piazza Venzia”. In Pazza Novona is weer pizza bestel. Binne 5 minute het ons dit gekry en moes vinnig eet en weer aangaan. Ek het gedink dit was te vinnig en ek wou die plekke meer bekyk. Om die geboue van voor Christus se tyd te sien is iets ongelooflik. Mens wil tyd spandeer om die volle inpak van die omgewing te verstaan. Soos die toerleier gesê het; jy het drie weke nodig om Rome te toer. Carlene het uit gevind dat die Pope die aand 10:00 by die Coloseum sy Paasfees boodskap lewer. Almal is stadig daarheen vir die unieke ervaring. Terwyl ons nog so stap met die verligde Colosseum wat net in die verte gesien kan word, kom die Pope met al die karre daar verby. Hy het die ruit oop gehad so ons kon hom baie mooi sien. Hy is maar baie krom getrek van ouderdom. Daar was heelwat mense wat die toespraak in sowat 5 tale aangehoor het. Dit was koel daar buite maar nie te onplesierig nie. Gelukkig het ons die aand baie gesien aangesien die volgende dag baie nat en koud was. Dit was ‘n lang dag in die bus en die rondhardlopery het my uitgeput. By die hotel het klomp van ons dieselfde idee gehad en sommer lekker by die leefkamer/bar sit en gesels. Ek het gou moeg geraak en gaan slaap.

Vroeg die Donderdag moes ons opstaan om in die ry te gaan staan by die Vatican City. Dit is die kleinste land in die wêreld, maar het wel sy eie posstelsel, geldeenheid, koerant, radiostasie, treinstasie en Switse weermag. Dit het rêrig gesous. By die hotel was die weer nie te sleg nie so baie het nie warm klere of ‘n rëenbaadjie saam gevat nie. Ouens op die straat wat sambrele verkoop, het geld gemaak soos soetkoek. Ek was van die wat nie voorbereid was vir die weer nie, so ons het skuiling onder afdakke gevat terwyl die ander in die ry staan. ‘n Uur of wat later was ons groep voor en kon ons ingaan. Die meeste van die groep was sopnat en baie koud. Mens kom nie gou weer hiernatoe nie so mens kan nie die kans verby laat gaan nie. Die plek is baie groot en gevul met skilderye en beelde. St. Peter’s Basillica is die bekendste Christelike kerk in die wêreld en is gebou in die 4de eeu. In die Sistine Chapel het Michaelangelo die Laaste Awendmaal in die kerk geskilder. As jy mooi kyk na die skilderye kan mens die stories volg wat die skilder wil vertel. Ek en Charlene het maar binne gebly om uit die rëen te kom. Buiten die Sistine Chapel is die St. Peter’s Basillica volgens die fotos in die boeke baie mooi.
‘n Toerleier het 1 uur die middag vir ons gewag by die Colosseum vir ‘n toer. By die stasie het ons gou iets gekry om te eet en hot chocolate gedrink voordat ons aan gegaan het. Die meeste van die groep het nie kans gesien vir die weer buite nie en het terug gegaan hotel toe. Philip is ook verloor saam met die Aussies. Die Colosseum is indrukwekkend in die dag ook. Die vrou het ons in gevat en verduidelik hoe die gladiators hier teen mekaar en teen wilde diere baklei het. Daar is rekord van 10 000 gladiators en van 11 000 wilde diere in die argiewe gekry. Die stadion is gebou in 72 AD en kon 80 000 mense neem. Dit is ongelooflik wat die Romeine gedoen het in terme van bouwerk. Daar kan nie met sekerhied gesê word of Christinne ook hier vir hulle lewe geveg het nie. Binne die gebou lyk dit eintlik baie beskadig en oud. Die houtvloer van die Coloseum is lankal weg Mens kan van die een kant na die ander oor ‘n tydelike loopvlak loop en die ou kamers sien waar die diere in gevangenes gehou is. Dis jammer die weer was so sleg, anders sou ek baie mooi fotos kon neem. Die via Cappia is ‘n straat wat die Romeine gebou het in 312vC en tot vandag toe word paaie op dieselfde beginsel gebou. Daarna is ons na die “Roman Forum” wat die area is waar die markie was en basies die kern van Rome was so 2 000 BC. Saam met die gids is ons baie vinnig deur die ruïnes. Teen die tyd was ek al half verkluim en sop nat. Net vinnig op by die Piazza Venezia om ‘n foto te neem oor die ou Rome en toe is ons terug hotel toe. My hande was pers van die koue.

Onder by die hotelbar het ons weer soos die vorige aand gaan sit om net rustig te verkeer. Blake kom van die suide van Amerika. Ons het lekker gesels oor rassisme. Hy voel net soos ons soms voel deurdat mense hom ‘n rassis noem net omdat hy van die suide afkom. Net toe ek wou opgaan kamer toe om te bad en gaan slaap kom daar ‘n paar ouens aan wat mense soek om saam te gaan sokkie. Hulle is ook van Contiki maar van ‘n ander bus. Die hoteleienaar het gesê dat as daar 40 mense is sal hy die ontspannings saal onder by die swembad oopmaak en musiek maak vir ons. Oorspronklik wou ons net getalle opmaak en dan weer terugkom hotel toe. Philip het al klaar gaan slaap. Charlene kan mos nie so geleentheid verby laat gaan nie, ons twee het toe lekker gedans. Soos in St. Goar het ek en sy die mense gewys hoe om vas te dans. Vir hulle is dit wonderlik dat ons so kan dans en vra of ons klasse gehad het. As hulle net SA toe gaan sal hulle monde seker oop hang by een van ons sokkies by die huis. Eintlik het selfs Charlene nie te lank gehou nie en die eerste keer toe ek sê dat ons moet gaan (so 1:30 am) het sy ingestem. Philip het nie eens gehoor toe ons inkom, bad en gaan slaap nie.

Vrydag-oggend was dit weer dieselfde storie van vroeg opstaan, ontbyt eet en in die bus klim om na die volgende destinasie te ry. Florence is in 200 BC gevestig en was voor Rome die hoofstad van Italië. Hier is baie bekende skilderye en veral beelde soos Donatello se bekende brons Davidbeeld (wat van een stuk brons plaat gemaak is) en ook Michaelangelo se marmer Davidbeeld.
Eerste is ons na die leerwinkel en het gesien hoe die ou met die leer werk terwyl hy vertel hoe om regte leer van vals leer uit te ken. Baie mooi, maar die pryse is belaglik. ‘n Klein leersakkie vir 3 golf balle kos £60!! Dit is wel met die hand gemaak en sonder gare aan mekaar gesit. In die Piazza Signoria is daar ‘n groot fontein en beelde net waar jy kyk. ‘n Replika van die Davidbeeld is ook hier in die vierkant net soos dit die eerste keer uitgestal is. Die kerk het blykbaar gladnie van die beeld gehou nie aangesien dit ‘n man totaal kaal voorstel. David het ‘n slingervel wat hy met ‘n gebuigde arm agter sy rug laat hang en met ‘n klip in die ander hand langs sy sy. Hulle kon dit ook nie verwyder nie, omdat Michaelangelo ‘n respekteerde persoon was. Hulle het toe die hele vierkant met klomp ander standbeelde gevul om dié beeld weg te steek. In die Basilica Santa Croce is die grafte van Michaelangelo en Galeleo Galelé (die sterre kundige). 24 Junie elke jaar hou hulle ‘n fees hier – Feast of St. John the Baptist. Hulle speel dan voetbal met 16 eeuse reëls en dus is daar nie reëls nie. Jy moet basies die bal van die opponent kry op enige manier. Vir die manne is dit ‘n sport om hulle manlikheid te bewys en daar is gereeld ouens dood in die wedstryd. Hulle speel op die klip plafeide plein wat met saagsels bedek word.

Die groep is hotel toe om aan te trek en reg te maak vir ‘n “Tuscany Dinner”. Die ete was baie lekker. Dit was hier die eerste keer rêrig die “Italian Stallions” teegekom het. Hulle is almal aantreklik en baie glad met die bek terwyl hulle ons bedien. Die vrouens het dit baie geniet. ‘n Vrou het ook vir ons opera gesing. Na die ete het ons direk na ‘n nagklub gegaan. Die klub is baie netjies binne en nogals groot. Daar was ‘n paar vlakke met verskillende tipes musiek. Seker die meerderheid van die mense was egter toeriste. Die DJ het elke nou en dan net geskree: Any Americans! Dan gaan hulle mal en skree. As hy vir Suid Afrikaners skree het ons 5 probeer geraas maak, maar ongelukkig was ons in die minderheid. Jammer, ons het probeer! Die laser show was ongelooflik. Dit voel of die hele gebou op die maat van die musiek beweeg. Orals was daar ook sulke platvorms waarop jy kan dans. Ons manne het ons hande vol gehad om die meisies en die “stallions” dop te hou. Ek het heel aand naby my verloofde gedans. So teen 1:30 is ons hotel toe met ‘n taxi wat die deurwag sommer vir ons gereël het.

FRANKRYK

Saterdagoggend het ons by die skewe toring van Pisa ‘n draai gemaak oppad na Nice, Frankryk. Die dorpie Pisa is baie klein en daar gaan nie baie aan nie buiten die toring. Hulle het al vele planne beraam om die toring, wat 5m vertikaal gekantel is, regop te hou. 600 Ton lood is ook al gebruik om die toring te stabiliseer. Ek het my laaste lire gebruik en T-shirts gekoop. Die pad na Nice was baie mooi. Langs die kuspad kon ons ‘n paar groot plessierbote sien. Duidelik is dié plek gesaai met rykgatte. Ons het by die hotel gekom, afgepak en ons vuil klere ingegee om te laat was. Die aand moes ons mooi aantrek aangesien ons na Monaco gegaan het om te gaan dobbel in die Casino, Monte Carlo. Die Monaco Grand Prix se roete is mos onderdeur ‘n lang tonnel. Wel bo die tonnel is die casino en die Royal Palace waar ons gaan eet het. Die ete was baie lekker. Ons het in ‘n klein klip straatjie tussen baie duur winkels gesit en eet. Dit was sig afstand van die Paleis. Daarna het ons gaan dobbel. Net sports karre staan voor die plek in lang rye. Die manne speel daar met 5000 FF (so R5000) chips en nie veel kleiner nie. Die een ou speel sommer drie tafels gelyktydig en gooi hande vol chips op die tafels. ‘n Ou tannie het haarself gemaklik gemaak by die masjiene met ‘n hele laaitjie vol munte. Ek en Charlene het net met 20 FF gespeel. My 10 FF het vinnig verdwyn gegaan nadat ek so hier en daar ‘n paar munte gewen het. Charlene het egter lekker gespeel. Sy raak in vervoering as die munte in die bakkie val as jy wen. Sy het aan die einde van die aand 120 FF gewen, maar ek is seker dat as ons nie moes gaan nie, sy meer sou wen en dan alles sou verloor het. (Ek dink nie so nie Ian…..! Ons kon dalk nou miljoeners gewees het) Tussen al die ryk motors en mense voel mens sommer ook ryk. Jy kan ‘n Monaco paspoort koop vir 1 miljoen Amerikaanse Dollar. Hier is geen belasting nie, so miskien is dit die moeite werd….. as jy te veel geld het en nie weet wat om daarmee te doen nie.

Die volgende dag was ons op ons eie. Ons kon doen wat ons wou die hele dag. Nice is ongelooflik mooi en alhoewel Carlene voorgestel het dat ons met die trein Cannes toe gaan wou ons net langs die ligte blou see loop en die plek verken. Langs die see is ‘n bree sypaadtjie waar jy kan stap en waar mense roler blade ry. Die strand is soos hier in Engeland net klippies. Mens kan nie bal speel soos in SA nie. Gelukkig was die weer lekker en ons het selfs so bietjie getan. In die dorp is daar duur winkels. Hier het ons die grootste parfuumwinkel ooit, (wat ons al gesien het) gekry. Dit is onmoontlik om goed te ruik na een of twee spuite. In die algeheel het ons net rustig die plek verken en die son in ons gesig wardeer. Daar was ook baie oulike blomme stalletjies. Teen die see is hier en daar trollies wat kos verkoop. By so ‘n trollie het ek, Charlene en Jerry, Crapes gekoop. Dit is dun pannekoek waarop hulle goed smeer soos chocolade, jam en room. Die Franse is lief daarvoor en ek kan dit verstaan. Van ‘n hoë punt het ons, net voordat ons terug hotel toe is, mooi fotos geneem van die sonsondergang. Nog ‘n ding wat snaaks is, is dat die lughawe langs die see is en die vliegtuie styg oor die see op en kom langs die strand verby. Die hotel was baie naby die see. Die stort was egter baie snaaks deurdat jy in die middel van die badkamer staan, die stort vashou in een hand en met die ander hand moet jy jouself probeer was. Vanselfsprekend het ons langer as gewoonlik geneem om te stort. Heel ongemaklik as jy vir my vra. Daar by die hotel in die hawe is heelwat seiljagte gemeer.

Maandagoggend was ons oppad na Lyon. Ons het eers by Avignon gestop om bene te rek. Die dorp is omring met ‘n ou muur van 7 km (as ek reg kan onthou). Dit is seker een van die mooiste dorpies wat ek al gesien het. Ek en Charlene het lekker rustig alleen by die hoofstraat af gestap tot aan die einde van die muur. Alkante van die straat is daar bome wat regoor die straat groei. Die groep het lekker op die trappe in die son bemekaar gekom en was weer aan die beweeg na Lyon. Ek en Charlene was laas jaar deur Lyon toe ons Parys toe was. Voor Parys was Lyon die hoofstad van Frankryk. Die Romeine het die dorp meer as 2000 jaar terug gevestig. Die hotel was heel lekker, maar ons het laat daar aangekom, so alles was al toe. Dié aand is ons wel vir ‘n stap deur die dorp tot by die eetplekke. Ek was nie te honger nie, so ek het ‘n slaai geëet met ‘n sag gekookde eier en neute “Laonaise saladé”. Die vorige keer toe ons in Frankryk was, was die kos fantasties. Hulle weet hoe om kos te maak. Ek is seker die dorp kan baie meer offer, maar daar was net eenvoudig nie tyd om die plekke te besoek nie. Parys lê nog voor.

Dinsdag het ons in die pad geval na die hoofstad van Frankryk, Parys. Eers het ons by ‘n klein dorpie genaamd Fontainbleau gestop. Napoleon se paleis is hier en ons het dit gaan besoek. Hy het ‘n mooi tuin en grasperk gehad. Lekker vir ‘n game touch rugby saam met sy vriende. Die humeurige kort mannetjie het seker skrumskakel gespeel, dink ek. Die bus het die nammiddag by die hotel in Parys aangekom. Dié aand is ons deur die verligde stad gevat op Carlene se bus toer. Aangesien ek en Charlene al op so ‘n bustoer deur die stad was wou ons nie eintlik saamgaan nie, maar was bly dat ons het. Sy ken die stad baie goed en was ‘n uitstekende kommentator. Moenie vra hoekom nie, maar dit is verseker die romantieste stad in die wêreld. Die geboue is besonder mooi met die gedetaileerde versierings. Die Eiffeltoring vol flitssende liggies lyk veral mooi en is een van die dinge wat mens nie op ‘n foto kan vaslê nie, maar moet daar wees om dit te ervaar. Iets interessant is dat daar al 350 mense selfmoord gepleeg het deur van die toring af te spring. Drie (en ‘n half) mense het die val oorleef. Die verwagtende vrou het gespring en sy en haar ongebore kind het oorleef. Hy is Eiffel genoem en is nou al blykbaar 16 jaar oud. Omtrent almal was op met by die toring. Ek, Charlene en Jodie het bietjie rond gestap en nag foto’s geneem. So uur later en na ‘n lekker koffie by ‘n restaurant op die hoek van die straat was almal weer af en ons het terug gery hotel toe.

Die hotelkamer was mooi, maar baie klein. Ons het net daar geslaap en nie veel meer nie, so dit was okay. Die volgende oggend het ons ontbyt gekry wat bestaan uit ‘n crossant en koffie. Daarna is ons terug stad toe om ‘n toergids te ontmoet by Notre Dame vir ‘n toer deur Parys. Hulle het van 1163 tot 1345 aan die kerk gebou. Soos gewoonlik is die detail van die gebou ongelooflik. Op die gebou buite is daar ook bybelse stories om vir almal van die bybel te leer aangesien baie min mense daardie tyd kon lees en skryf. Daar is drie deure van versillende grotes en vorms, spesifiek so gebou aangesien hulle gedink het dat, as dit simmetries is, dit van die duiwel is. As mens nie van beter geweet het nie kon mens dink dat hulle nie iets semmetries kon bou nie en toe die storie opgemaak het. Die “flying buttresses” (die geronde geboude stutte wat die muur ondersteun) is die bekendste eksterne visuele kenmerk van die kerk . Na die toer was die res van die dag ons s’n. Met die museumkaartjie kon ons ook op gaan by die Arc de Triomphe. Dit is die wêreld se grootste verkeerssirkel met 12 strate wat daarin kom. Niemand se versekering dek hom in die sirkel nie. As mens sien hoe hulle ry is dit te verstane.
Ek het lank net daar op die Arch gestaan en gekyk hoe hulle ry. Ons het af gestap by die bekende “Champs-Élysées” straat met al die koffiewinkels waar die beroemde mense bymekaar kom. Jy moet van bo (by die sirkel) na onder stap om as iemand belangrik gesien te word. In die straat is daar bekende winkels ook soos McDonalds. Dit is egter die enigste McDonalds met wit ligte en borde aangesien die meeste van die winkels wit ligte het, ter aandenking van Mr Neon wat hier die eerste neon lig opgerig het. Ek, Charlene en Kate het aan die onderkant van die straat regs gedraai verby die Grand Palais en oor die brug. As daar ‘n fliek gemaak word in Parys en die ou en meisie soen is dit op die brug. In die agtergrond is die aantreklike versierde brug met die lampe en in die ver agtergrond is die Eiffeltoring. Dit maak ‘n baie mooi foto. Die Hotel des Invalides was in die Napoleon se tyd ‘n hotel/hospitaal vir al die manne wat in die oorloë ledemate verloor het. Die geboue is ook gebruik vir weermagstore en is deesdae die wapen Museum. Met die kaartjie kon ons ook hier ingaan. Mens het eintlik baie meer tyd nodig om deur die hele gebou rustig te loop maar soos gewoonlik was daar nie tyd nie. Die vrouens het in elke geval verveeld geword. Net langs die museum is die Rodin museum waar Die Denker beeld in die tuin staan. Die bronsbeeld is een van die min oorspronklike beelde waaraan jy selfs kan vat. Van daar is ons weer oor die Seine rivier na die Place de la Concorde. Dit is mos waar duisende koppe gerol het in die Franse Revolusie. Hier in London by Madame Taussauds is die valbyl wat Marié Antionette onthoof het. Die laaste keer wat die valbyl gebruik is vir die doodvonnis was in 1977 in Frakryk!! Om terug te keer na Parys; ons het deur die groot tuin gestap na die enorme Louvre Museum.
Die gebou is ommenby 1200 gebou. Hulle sê as jy een minuut by elke skildery staan in die museum sal jy vir 9 maande daar wees. Leonardo se Mona Lisa is hier en ons het haar gaan opsoek. Die skildery is redelik klein. Al wat my aandag getrek het was haar siptiele glimlag. Asof sy iets wegsteek. Die ander beelde en skilderye was baie goed. Dit was die beste kuns museum waar ek al was. Mens raak moeg van rondstap van een kunswerk na die ander, maar daar is so baie om te sien. Charlene en ek het nog so paar FF gehad en wou dit spandeer. Ons het toe weg gesluip na die “Latin Quarter” waar die pryse nie so duur is nie. Eintlik het ons net lekker gestap en dinge gekyk en nie rêrig by winkels uit gekom nie. Inteendeel, ons moes terug hardloop om betyds vir die bus te wees by Place de la Concorde. Daar was egter tyd om weer twee Crape’s met chocolate sous te eet voordat ons weer op die bus geklim het.
Die meerderheid van die mense het die aand na ‘n Caberé show gaan kyk. Die koste was te erg vir ons. Ek en Charlene het sommer daar naby die hotel gaan rond stap en ‘n plekkie gesoek om te eet. ‘n Franse restaurant was net om die draai en het baie huislik gelyk. Die kelner net nou en dan op die trappe gesit en so bietjie geskuur aan die houtreëling om dit seker later te verf. Charlene het water gevra, maar hulle het ons moeilik verstaan aangesien dit buite die sentrale stad is. Hy bring toe ‘n bottel met ligte geel vloeistof en wou dit vir ons gee. Ons het eers gedink dit is vuil water. Hy het agter gekom dat ons dink dis water en het lekker gelag. Dit was suurlemoen lekeur wat hy ons wou laat probeer. Ons het nie geld gehad daarvoor nie. Aan die einde van die aand na die bordtjie chips en die pizza het hy vir ons elkeen ‘n glasie van die lekeur op die huis gegee. Sulke ervaringe is wat die toer lekker maak. Soms is toeriste soos skape agter die voorste een en ervaar nie die kultuur van die plek rêrig nie. So leer mens van die kultuur van die mense. Die ander het die show nie so baie geniet nie. Philip en ‘n paar ander wat saam met die groot groep, maar hulle het net in die buurt daarnaby gaan eet en rond gestap. Ons het die laaste dag van die toer weer lekker geslaap na ‘n lang dag.

Vir oulaas het ons opgestaan, die sakke gepak en in die bus geklim om na die volgende destinasie te ry. Ons het noordwaarts gery tot by Kanadese “War Memorial”. Hier is blykbaar in die 2de wêreld oorlog vir weke aaneen oor ‘n stuk land van ‘n paar honderd meter bakly. Orals is daar nog diep gate soos die bomme ontplof het. Jy mag nie op die gras loop nie aangesien daar steeds bomme is wat nie ontplof het nie. Die skape loop daar rond om die oorblywende landmeine af te trap. Ons het net tien minute daar gebly en toe is ons na Calais om oor te gaan na Engeland. Die water was meer rustig as die vorige keer. Ons het lekker vir die uur en ‘n half in die sonnetjie gesit. Ek en Philip het ‘n boks bier gekoop op die ferry, aangesien dit so goedkoop is. Dit het die huis ‘n hele maand gehou. Die doane aan Engeland se kant het nie eens ons paspoorte gevra nie. Die ander bus wat ook daar getsaan het is egter gestop en almal moes uitklim om hulle paspoorte te wys. By die hotel in die stad het almal vir mekaar baai gesê. Ons drie het net vinnig huistoe gegaan, ons sakke neer gesit, gestort en weer terug gegaan hotel toe om die ‘gang’ te ontmoet vir ‘n laaste drink. As ons nie so moeg was nie kon ons seker heel aand gekuier het. Dit was lekker om weer terug te wees by die huis.

Ek het 9 films en ek dink Charlene het 5 video’s vol geneem van die 10 lande in Europa. Ons is steeds besig om dit uit te sorteer! So ‘n Europa toer sal ek aanbeveel vir enigiemand. Goed, jy hardloop baie rond, maar daar is so baie dinge gesien en ons het soveel dinge ervaar. Vir my het wêreld geskiedenis heeltemal ‘n ander betekenis aan geneem. Die geskiedenis en die stories/legendes wat gehoor is maak die verlede lewendig. Dit is verrykend. Dit is jammer SA is so ver van Europa. Baie mense, veral die hedendaagse parlement sal baie daarby baat om te kyk hoe ander lande dinge in die algemeen doen.

Oostenryk dagboek

iancharlene@hotmail.com

Thank you for visiting my page at Angelfire. Please come back and visit again!