Die Ski Freeks in Oostenryk

Site hosted by Angelfire.com: Build your free website today!

OOSTENRYK - ZELL AM SEE

Wel, die ski klere was al gekry (gehuur by vriende van vriende) en die tasse het nie lank geneem om te pak nie. Charlene het die vorige week verskillende kleur haar sprei gekoop om elke dag ‘n ander haar kleur te hê. Philip het sy hare die aand pot blou gekleur, permanent. Die vlug na Salsburg sou eers die volgende middag 14:00 vertrek en ons moes so 2 ure voor die tyd daar by Gatwick wees. Met al die bagasie is ek, Charlene en Philip die Vrydag na Cornel-hulle toe om sommer daar oor te slaap en saam te ry lughawe toe. Ons was altesaam 7 daar, waarvan ons 1 nie geken het nie. Kurt is ‘n vriend van Cornel en het van SA af deur gevlieg om saam te kom ski. Almal het alhoewel al klaar geslaap teen die tyd wat ons daar opgedaag het. Daar was niks in die yskas nie so na ‘n koppie koffie was dit inkruip. Om aan die slaap te raak was moeilik omdat Jaco wat ook daar by Cornel-hulle bly wakker gemaak is, om nag voor te sê en toe kon ons nie ophou lag vir sy groen nagpakkie nie. Hy is sommer daar en dan,die naam grasperk gedoop. As mens moeg is gebeur dit. Na so bietjie se laat slaap die volgende oggend, ontmoetings, ontbyt en laaste shopping was ons oppad. Een taxi het ons almal gevat. Hy het baie lang draaie gery tussen die dorpies deur. Die lughawe was heel okay en die inboek van die tasse was vinnig.

Van die lug af lyk die landskap baie mooi. Hier en daar was wit gesneeude lappies lande. Op die vlug was dit vinnig eet want dit was nie so lang vlug nie. Laat die Saterdag middag land ons toe in Salsburg, Oostenryk. Dit was nie so koud nie en daar was nie veel sneeu op die lughawe nie. Soos gewoonlik is so-te-sê almal van die vlug reguit deur die doeane sonder om hulle paspoorte behoorlik te wys. Ons moes so minuut wag sodat hulle die paspoort kon scan en deurkyk. Ag, ons was steeds die gelukkigste van die hele vlug om in Oostenryk te land en het uitgesien na die vakansie wat voorlê. Buite het die bus reeds gewag om ons groepie en ook ander groepe by die onderskeie hotelle te af te laai. Op daardie stadium het dit nie eens gesneeu nie. Ons het al so uitgesien om sommer baie sneeu te sien. In teendeel, die vorige paar weke het ek die internet website van Zell am Zee (die dorpie waar die ski slope is) fyn dop gehou om te kyk of daar genoeg sneeu sal wees vir lekker ski. Baie plekke in Europa het min sneeu gekry en die meeste slopes was nie volkome oopgestel nie. Op pad na Bruck waar die Hotel Höllern is het dit begin sneeu. Dit is jammer dat ons nie die plekke langs die pad in die dag kon sien nie aangesien daar ‘n paar kastele oppad was. Hulle was darem goed verlig so dit was nie te sleg nie. ‘n Toer leier het ook elke nou en dan gepraat en iets oor die omgewig gesê. Om net uit die besige London te kom was vir almal kalmerend, dink ek. Die omgewing, al was dit donker het sommer mooi gelyk. Die volgende dag sou ons sien hoe mooi die plek rêrig is! Ek het ‘n “hip flask” gemaak van “English, Sheffield pewter” met ‘n rugby motief vir myself vir my verjaarsdag gekoop in London. Die Spaanse port in die flask het lekker gesmaak en dit was ‘n goeie eerste heildronk op die vakansie.

Na seker so uur en ‘n half se ry kom ons toe by die hotel aan net in tyd vir aandete. Die week van GROOT eet het begin! By die aandetes was 2 drankies ook ingesluit. In die begin was ons baie braaf en het nie terug gestaan vir die Duitse bier nie. Om elke aand ‘n bier te drink is ‘n klein prestasie vir ons ligte manne.
Bruck is ‘n klein dorpie, so die mense praat nie daie Engels nie. Cornel se oupa-hulle is Duits, so hy ken so paar woorde. Somtyds kan mens ook die Afrikaans in die Duitse woorde hoor. Na die ete is die plek eers ondersoek. Daar was ‘n massiewe takbok-kop teen die muur in die gang, ‘n ou kis met bordierwerk in die een voorportaal, ‘n ou boekrak vol boeke, ‘n ou hout skaal ens. Die voorportaal was getëel; seker omdat die skiers met hulle ski bootse hier inloop. Af by die trappe is die speel kamer, die “Roman Bath” wat eintlik net ‘n verhitte swembad is, die sonnas en die kamer waar die ski’s en die bootse opgehang word om oornag droog te raak. Natuurlik moes ons die sneeu uitprobeer voor daar geslaap mag word. Net buite was daar ‘n lekker bultjie om teen af te gly met die “schelpje”. Die vaakheid is vergeet binne minute se gespeel in die sneeu. ‘n Onperporsionele sneeu-vrou is gebou sommer net daar en dan. Die volgende dag sien ons toe dat die vooruitstrewende vrou reg in lyn, van sig vanaf die restaurant se vensters is. Om by die bultjie af te gly was groot prêt. Almal het natuurlik vir almal met sneeu gegooi. Die sneeu is verbasend nie nat nie, tensy dit natuurlik in jou rug afgegooi word en smelt.

Ek, Charlene en Philip het die eerste aand in ‘n kamer geslaap. Kwassie het die plek bespreek vir ons 7, maar Kurt het eers die volgend aand by ons in ‘n ander kamer in getrek. Cornel-hulle was reg oorkant ons. Na ‘n bad was ons bed toe, die volgende dag sou ons baie doen. Vroeg die volgende oggend, so 7:00, is ons toe op vir ontbyt. Die vere kwilt en die bed het baie lekker geslaap en aangesien ons sekker nog moeg was, was dit moeilik om wakker te word. Op die tafel was daar seker 8 verskillende soorte pap, verskeie soorte brood, sappe, yogurt, en vrugte. Ek dink hulle glo dat mens baie moet eet omdat die ski baie oefening is. Eerstens moes ons die ski’s gaan haal onder in die dorp. ‘n Bussie is gereel om ons af te vat na die winkel toe waar ons die ski toerusting sou leen vir die week. Hulle neem jou gewig en jou lengte om jou die regte grote ski’s te gee. Met die ski’s, die bootse en die stokke was dit ‘n swaar lot goed. Dadelik daarna is ons terug hotel toe en het reg gemaak om te gaan ski. Daar was 12 mense in die groep wat ons eie afrigter gehat het. So skuins agter die hotel was die oefen slope waar ons vir 2 dae geoefen het.
Die slope is nie te steil nie, maar aan die bokant is daar ‘n lekker bultjie wat vinnig is. In die middel van die slope is die kabel wat jou optrek teen die bult. Aan die begin het ons baie stadig gegaan. Op die ski’s voel mens nie baie stabiel nie. Veral met Kwassie en Trudie wat sukkel om regop te bly was die oefening maar stadig. Ons almal het baie geval. Die sneeu is baie sag en teen die spoed wat ons geski het kon mens nie seerkry nie. Hulle het net so bietjie gesukkel om op te kom na ‘n val. Jou ski’s kom los as jy val sodat jy nie jou enkels en knieë beseer nie. Om dit weer aan te sit is nie maklik op ‘n skuins oppervlakte nie. My kniee het seer geraak van al die stoppery. Die eerste twee dae was baie mooi sonskyn. Tussen die wit gesneeude berge was dit baie lekker en baie mooi.

Die middag etes moes ons self voor sorg. Na die groot ontbyt was ons nie eintlik honger nie. Die middag het ons weer terug gegaan om te ski. Dit was nie eers koud nie, in teendeel ons het gesweet met al die klere. Ek het my pak half oop gezip en net in my t-shirt onderaan geski. Na die eerste dag se oefening het ons die goed in die warm kamer gaan ophang en ingestap dorp toe. Dit is minder as 10 minute se stap. By die supermark was dit heel interessant. Dit lyk my hulle hou van sjokelade en Schnaps, aangesien daar ‘n groot verskeidenheid daarvan was. Daar was ook heelwat gedroogte vark en salamie wat heel goed gelyk het. Ons het kos gekoop vir die middag etes en sommer schnaps en ander lekkergoed ook om die plek se inheemse dinge te probeer. Een ding is verseker en dit is dat hulle schnaps baie soos ons mampoer smaak. Kan nie baie daarvan drink nie! Die aandetes was net so lekker soos die ontbyt. Ons moes soggens van ‘n spyskaart kies wat ons wil hê vir aandete. Dinge soos vark, foerel, lam stew ens. was op die spyskaart.

Teen die derde dag kon ons na die groot slopes, die “Areitbahn”, by Zell am Zee gaan. Jipeee! Die plek is heel groot en ingerig. Volgens die gereelde skiers is die plek goed maar nie so uitstekend soos dié in Amerika nie. Alhoewel dit nie sonskyn was nie, was die plek baie besig. Met die skoene, stokke en die ski’s is mens swaar gelaai en die huisers op teen die berg is kort op mekaar. Jy moet so in die beweging jou ski’s in die deur indruk en in die “gondola” inklim. Dit vat ‘n paar minute teen die steil berg op tot by die eerste stop waar ons afklim. Oppad kan jy terug kyk na die dorpie aan die voet van die berg. Daar is ‘n restaurant en ‘n pub. Vir die volgende 2 dae het ons so entjie op van hierdie stasie op gegaan en weer terug oefen, oefen geski. Kerry was baie geduldig met ons almal. Kwassie en Trudie het teen die tyd nie meer saam met ons geski nie. Hulle het wel saam gekom, met hulle gear, om te kan ski as hulle wil. Ons ander 6 het al hoe vinniger geski met al hoe meer vertroue. Die res van die groep het uit geval of sommer op hulle eie gaan ski. Ek het omtrent nooit geval nie. Charlene aan die ander hand wou baie en hét baie geval aangesien dit heel lekker is.

Dinsdag aand wou ons die enigste pub in die dorpie gaan uit probeer. ‘n Groep baie aangename engelse waarvan 2 ouens in ons ski groep is, het ons egter genooi om saam met hulle to kom drinking games speel. Hulle is op ‘n week lange bachelor!! Hulle oordryf nie en is eintlik heel beskaafd. Elkeen kry ‘n nommer en as jou nommer genoem word moed jy jou nommer herhaal en iemand anders nomineer. Alles op ‘n ritme van hande- en tafel se klap. Daar is ‘n paar rëels soos, dat jy nie die persone langs jou mag nommineer nie of die persoos wat jou genommineer het nie. Ekstra rëels kom ook by en dit raak heel opwindend. As jy nie die rëels nakom nie moet jy die sluk wyn drink. Dit het laat geword daar om die etenstafel en die pub in die dorp is nie by uitgekom nie. Na ‘n swem in die Roman bath en ‘n tydjie se sit in die sona was dit weer slaaptyd.

Woensdag en Donderdag het ons groepie verder teen die berg op gegaan om lekker lank en ver per keer te ski. Die helling het styler geword hoe hoër ons gegaan het. Vertrouder skiers het verby mens soos spoedvarke gevlieg en jou aandag nie heeltyd op om reghop te bly is nie. Glo my, dit is heel moeilik om te stop teen ‘n 40° bult. Gelukkig is daar gewoonlik iemand wat jou spoed breek. Ongelukkig was dit gewoonlik ek. Met al die klere is dit nie seer nie. Teen die bult af is dit baie lekker. As jy jou lyf klein maak en teen die helling af gaan voel dit baie vinnig. Vir my het dit baie stabiel gevoel om so vinnig te ski totdat jy iets snaaks wil probeer soos om een voet op te tel. Dis soos ysskaats. Op een plek was dit baie hoog teen een rand af so jy speel nie te onverantwoordelik nie. Na ‘n tyd is die yskoue wind en sneeu in jou gesig ook nie eens meer koud nie. Om die waarheid te sê het dit redelik baie gesneeu die laaste paar dae. Veral die laaste dag was dit koud heel bo op die berg…so -11°C. Daar bo is ook soos op die 1ste stasie ‘n bar en eetplek. In die koue aande kan mens die musiek van die hotel wat seker so 8 km ver is hoor. Ons het egter nie tyd gehad om daar te kuier nie.

Die toer leier kom elke dag by die hotel om en vertel watter aktiwiteite daar aan die gang is. Ons het besluit om die Woensdag die Ten Pin Bowling te doen. Dit was heel lekker. Steve het dit self aangebied en dit is basies gewone bowling soos wat ons ken maar met ‘n klein bal met 2 gate. Die grootste verskil is die gebare en die klanke wat gemaak moet word met die aanloop tot die baan. Phillip het die prys vir die beste hoender gekry. As groep het ons die Britse opposisie gewen. Donderdag aand het ons “deboggany” gery. Dit is ‘n 2-man slee wat jy by ‘n uitgelêde, verligde baan in die nag ry. Voor dit het ons in ‘n groot opblaas boot, soos wat mens gebruik om by ‘n rivier af te gaan, by ‘n bult af gegly in die donker. ‘n Trekker het ons op geneem na die hut aan die bokant van die baan. Daar is verduidelik hoe die storie werk en waneer om af te spring as daar nie gedraai kan word nie. Na die warm glu-wine is die baan aangedurf. Hoe hulle verwag dat mens draai gaan my verstand te bowe. Die draaie is so vinnig op jou dat daar nie tyd is om te draai nie. Ek en Charlene was seker op elke draai oor die kant in die diep sneeu in. Alles is te vinnig verby. Al die mense het eers by die nabye hotel bemekaar gekom om warm te word en toe is ons weer terug gevat na ons hotel toe om die draai. Om seker te maak dat ons heeltemal ontdooi is moes ons weer die Roman bath betree. ‘n Bietjie se bal speel in die water het gehelp om moeg genoeg te wees om weer lekker te slaap daardie aand.

Die laaste dag het ons ‘n kompitiesie gehou wie die vinnigste tussen die paaltjies teen die bult af kan ski. Met ons onvolmaakte styl het ons almal so vinnig ons kan die roete voltooi. Jy voel soos iemand op “Winter Olympics”. Neil en Jeff, die engelse ouens het baie goed gevaar. Charlene was egter die gunstelling. Uiteinde het die beste persoon gewen en ek het die goue medalje die aand by die onthaal/afskeid ontvang. Die Brittte was die hele naweek baie vriendelik, maar ek was bly dat ek vir Neil gewen het. Charlene was bietjie moeilik aangesien ek vir haar gewen het. Hoop sy besef nou dat ek die koning is.

Vrydag kon ons uiteindelik die dorp goed gaan verken. Zell am Zee se meer vries oor en jy kan blykbaar daaroor loop en ysskaats. Sowat 20 meter vanaf die kant was al gevries. Teen dié tyd is dit seker al heeltemal solied. Die dorp is baie mooi met klomp mooi winkeltjies. Aan die een kant lyk dit plattelands omdat dit redelik klein is. Aan die ander kant is die winkels uitlokkend en kleurvol. Soveel-so, dat ons ‘n koekoek-klok gekoop het en die buget in die sneeu gegooi het. Geboue langs die smal geplaveide strate is mooi opgemaak en het blomme in al die vensters. Die dakke was vir my veral anders as wat ek gewoond is. Duk balke word gebruik om die dakke met al die sneeu te dra. Heel indrukwekkend volgens my. Hulle hou van hulle gedroogde vark en salamie. Dit lyk soos groot stukke biltong met lekker speserye op. Klere winkels met die tradisionele drag was ook interessant. Om dit te sien in die winkel lyk baie mooi, maar as dit gekoop word wonder ek of ons dit ooit sal dra.

Tussen 12 en 2 uur die middag maak die plekke toe. Winkel dinge word terug gedra in die winkel en word eers weer uit gesit teen 2 uur. Ons het maar gewandel deur die dorp en fotos geneem van die strate en geboue. Elke uur het die kerk klokke mooi gelui. Charlene het dit seker op video gekry. Sy het goed gedoen om net 5 video’s van 45 min. elk vol te neem in die 9 dae. Skotland het ‘n video per dag geneem.

Saterdag was die laaste dag in Oostenryk. Ons kon net die oggend die ski goed terug vat en so bietjie in Bruck rond stap want die bus na Salzburg lughawe het ons 14:00 by die hotel kom haal. Bruck is baie klein. Gastehuise is gesaai in die dorp en die plek kan seker besig word by tye. Dit is baie mooi en rustig hier. Net van die hoofstraat af in een van die systraatjies kom ek en Charlene toe by die ou hout hut uit met net 2 vensters en een deur. Duidelik is dit deur die boer gebou ‘n hele paar jaar terug. In die tuin aan die agterkant van daie hut is 3 groot gesigte teen ‘n boom uit gegraveer. Die klein mannetjie het kom kyk wat ons buite sy plek maak en het so bietjie moeilik gelyk. Hy het daar gestaan totdat ons gaan. Philip-hulle het vooruit gestap maar ek en Charlene het stadiger gestap en by ‘n winkel in gestap waar die ou houtwerk beitelwerk doen. Hy is baie goed. Ek het lank na hom gestaan en kyk hoe fyn hy die hout kerf. By die hotel het ons net klaar gepak en het toe gewag vir die bus.

Die pad terug was redelik lank. Daar was ‘n sneeu storm in die area waar ons deur gegaan het. Almal het stadig gery om van die pad af te gly nie. Eintlik was die omgewing waardeur ons gery het pragtag. Aangesien die bus so stadig gery het kon mens baie sien. Sommige dakke van huise het seker tot ‘n meter sneeu op. Trokke langs die pad is toe gesneeu tot by die deure. Ons was laat vir die vlug vanaf Salsburg, maar hy het gewag aangesien almal op die bus die vliegtuig moet boord. Ons moes so bietjie wag vir ander mense en toe is ons weg. Die vlug terug was gemaklik en die trein na Wimbledon was ook heel vinnig. Teen die tyd was ons almal uit geput. Gelukkig was die volgende dag Sondag en kon daar bietjie gerus word. Ons ski vakansie was verby.

Europa dagboek

iancharlene@hotmail.com

Thank you for visiting my page at Angelfire. Please come back and visit again!