Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

PastorsNet

Welkom! Vandag is
Teken asb. Besoekersboek Bekyk Besoekersboek

Erediens-werkwinkel | Mtunzini-wyksgemeente | 'n Kort Gedagte vir die Dag

Dertien kleure groen in die Bo-Kaap

Skrifgedeelte: Mark 10:46-52

I

As een van sy wonderlikste gawes het die Skepper aan ons die gawe van sig gegee.

II

Om nie te kan sien nie, is sekerlik een van die wreedste gestremdhede wat ’n mens kan ervaar. In die vorige eeu was daar ’n doofstom en blinde vrou wat uiteindelik baie beroemd geraak het. Sy kon nooit praat, hoor of sien nie, maar het deur volharding nie geleer om met mense te kommunikeer en het uiteindelik ’n hele beweging op die been gebring om doofstom en blinde mense te help. Hellen Keller se verhaal word in haar biografie, The Story of my Life, vertel.

In ’n tydskrif het sy eenmaal ’n artikel geskryf onder die titel: "Om vir drie dae te kan sien." Daarin beskryf sy wat sy sou doen as sy net vir drie dae van haar lewe sou kon sien: Dag een sal sy haar vriende wil sien. Dag twee sal sy in die natuur uitgaan. Dag drie sou sy na New York toe gaan om die besige stad te bekyk.

Helen Keller kon nooit sien, praat of hoor nie. Selfs ons wat kan sien, sukkel soms om dinge raak te sien. Toe ek in Kaapstad predikant was, wat die hartchirurg Chris Barnard se familie in ons gemeente. Van hulle het ek die storie hoe Chris eenmaal in die Groote Kerk Kaapstad gesit het, dit was voor hy die eerste hartoorplanting gedoen het. Hy het gesukkel om die tegnieke vir die operasie uit te werk. Hy kon net nie visualiseer hoe om ’n sekere apparate te laat werk nie. Soos hy in die kerk sit, dwaal sy oog na die balke in die plafon van die kerk. En in ’n oogwink merk hy iets in die manier waarop die balke geheg is wat hom ’n idee gee. Toe kon hy aan die nuwe tegniek begin werk. [In ’n koerantartikel het hy later opgemerk dat dit omtrent soveel is as wat die NGK vir hom beteken het.]

Om te kan sien is ’n magtige gawe. In die tyd van Jesus was blindheid veel erger as vandag. Vandag het ons skole vir die blindes, wat heel eerste in ons land deur die NGK in Worcester begin is. Ons samelewing het middele uitgewerk waardeur blindes gehelp kan word. Daar is boeke op band, in Braille, en selfs rekenaars wat blindes kan gebruik. In die tyd van Jesus was blindes magteloos verstote, hulle het geen ander keuse gehad as om te bedel nie. Blindheid was die straf van God. So was dit ook ervaar deur ’n blinde bedelaar van die stad Jerigo.

Die verhaal van Bartimeus se genesing word heel eenvoudig vertel. Hy sit langs die pad en hoor Jesus gaan verby. Dan skreeu hy met alles wat hy het, "Jesus, Seun van Dawid, ontferm u tog oor my!" En Jesus, die begaafde geneser, maak hom gesond sodat hy kan sien.

Dis ’n verhaal van hoe fisiese blindheid genees word. Baie gou, egter, in die verkondiging van die vroeë kerk, het hierdie verhaal ’n model-verhaal geraak van hoe Jesus nie net fisiese blindheid genees nie, maar ook ander soorte van blindheid.

Daar is ten minste nog twee soorte blindheid waarvan die Bybel vertel.

1. Daar is soiets soos moedswillige blindheid. Kan daar iemand wees wat so blind is as iemand wat nie wil sien nie? Wat doen ons as iemand met ’n gebrek in ’n vertrek inkom? As ons iemand met ’n donkerbril en wit stok op ’n sypaadjie sien? Op ’n stadium het Jesus hom vasgeloop in die blindheid van die Fariseërs, die leiers van sy volk. Hoeveel keer het hy hulle aangespreek as "Fariseërs, blinde leiers… julle wat die buitekant van die koppie skoonmaak, maar binnekant is dit morsig!"

2. Daar is ook nog ’n ander soort blindheid. Kom ons noem dit geestelike of ideologiese blindheid. Dis wanneer iemand so verblind is deur ’n bepaalde denkwyse dat hy of sy net nie kan sien nie. As iemand anders nie hulle oë oopmaak nie, sal hulle nooit die lig sien nie. Baie Fariseërs was met hierdie blindheid geslaan. Ook die jong Saulus kon net nie sien dat Jesus die Messias, die Verlosser was nie. Daarom het hy aangehou om die Christene te vervolg. Totdat die "skille" van sy oë afgeval het na sy ontmoeting met Jesus op die Damaskuspad. Dis was die begin van sy bekering. Amper twee honderd jaar gelede het al die Europese lande geen probleem met slawerny gesien nie. Derduisende slawe is gekoop en verkoop om vir die magtiges en rykes te gaan werk. Totdat ’n man met die naam William Wilberforce die wêreld se oë oopgemaak het vir die gruwel waarmee hulle besig was. So was dit ook in die verlede in SA. Ons het ’n stelsel gevolg wat vir baie mense baie swaar laat kry het, maar dit het baie jare geneem voordat dit algemeen ingesien is.

Waar blindheid heers, fisies, moedswillig of geestelik, daar is geen hoop nie. Daar voel dit vir die slagoffers asof God hulle straf.

III

Die Bybelse Bartimeus sou nie eens hierdie oordenking kon lees nie. Maar miskien ken ons wat dit lees sulke mense. Waar vind ons die Bartimeusse vandag? Mense wat langs die pad agter ons aanskree, "Help my om te sien!"

Vir die skrywers van die NT is genesing van blindheid eenvoudig. Hulle sê: "Kom na Jesus. Hy kan die verskil maak. Hy neem die blindheid van die wêreld weg. Hy is die Lig." Maar dis amper te maklik gesê. Die vraag is HOE Jesus die verskil maak?

As ons die Nuwe Testament lees, ontdek ons hoe Jesus ’n verskil maak. Hy doen dit deur ons te leer om anders te kyk. Hy gee ons ’n nuwe perspektief. As Jesus verby ’n wildevyeboom gaan waarin ’n klein, verstote mannetjie geklim het om hom te sien, stop hy en sê, "Ek wil by jou oorbly." As die dissipels die kinders wat hom wil sien, wegstuur, sê hy, "Moenie hulle wegstuur nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemel." By ’n put in Samaria, sien Jesus nie ’n parmantige en eiewyse vrou voor hom staan nie, maar iemand met ’n dors na die ewige lewe. Hy kyk nie anderpad as daar mense in nood voor hom kom nie.

Dit kan ons by Jesus leer. Hierin is hy ons voorbeeld en model. Hy leer ons om nuut na die wêreld en die mense rondom ons te kyk, veral na die mense in nood, na hulle wat geringer as ons is.

Maar, kan ons vra, is dit nie wat alle groot geestelike leiers geleer het nie? Is dit nie wat alle kunstenaars vir ons doen nie? Hulle help ons om te sien.

Dit is egter nie die hele verhaal nie. Jesus doen vir ons veel meer. Wie die NT lees, en hom of haarself kan vereenselwig met die karakters, ervaar dat Jesus jou raaksien. Dis soos ’n versie in een van ons liedere lui:

Maar U sien ver, oneindig ver

U sien my honger, dors.

Nog voordat ek kon skuld bely,

Druk u my aan die bors. (SOM 14:3)

Omdat Jesus ons eerste raakgesien het, kan ons nou ook ander raaksien. Hy gee ons nie net ’n nuwe reël om na te volg nie, hy stel ons in staat, hy maak ons vry, om dit werklik te kan doen.

Die geheim hiervan is opgesluit in die woordjie genade. Jesus het Bartimeus eerste raakgesien. Hy het hom gehelp, selfs sonder dat hy die Bybel of die Kategismus ken. Ons weet nie eens of hy geglo het nie. Maar Jesus het hom uit genade gehelp. Deur vleeswording, lering, kruis en opstanding bemagtig hy ons met ’n nuwe manier van sien. Dit is hoe Jesus nie net ons voorbeeld is nie, maar ook ons plaasbekleder. Hy tree op in ons plek, en doen vir ons wat ons nie by magte is om te doen nie.

Wie dit begryp, kan waarlik sê: "In sy lig, sien ons die lig."

 

IV

Die verhaal van Jesus en Bartimeus moedig ons aan om die gawe van sien te vier. Om dankie te sê.

Ons moet ook leer om reg te sien. Dis een van die geestelike oefeninge: om te oefen om te sien. Die lamp van die liggaam is die oog, as die lamp nie werk nie, is die hele wêreld donker..

As leraar in Kaapstad het ek vir Johan Coetzee, nuusredakteur van die Huisgenoot, leer ken. Na sy tweede hartaanval, besoek ek hom in die City Park Hospitaal. Van hom leer ek toe iets van sien. "Hoe gaan dit nou?" vra ek. "Weet jy," se hy, "na soveel dae van hospitaalgrys, kyk ek vanoggend by die venster uit en dis asof die wêreld nog nooit so mooi was nie. Raai net hoeveel kleure van groen het ek in die Bo-Kaap getel. Dertien!"

Om die wêreld nuut te sien, kan ’n nuwe begin vir ons beteken. Om dinge raak te sien is waarmee in goeie fotograwe en skilders ons help. Ook goeie ouers, onderwysers, vriende, is mense wat ons jou help om te sien, te fokus.

Om ons naaste te kan liefhê, moet ons hom/haar eers raaksien. Ons moet hulle as mense in hul menslikheid raaksien. Ons moes, soos God, die harte sien. Hoe tragies is dit dat sommige mense eers hul fisiese sig moet verloor voordat hulle geestelike sig ontwikkel.

In die dorpie Blaubeuren in die Swabiese Alb in Duitsland, is daar ’n klooster met een van die mooiste altaarstukke in die kapel. In die middeleeue is pelgrimstogte soontoe onderneem. Die verhaal word daar vertel van ’n monnik wat, nadat hy dit gesien het, sy eie oë uitgesteek het, want hy wou nooit weer iets anders aanskou nie.

Uit die biografie van CM van den Heever oor Generaal Hertzog, vertel hy hoe die generaal se politieke loopbaan begin het. Hy het in Bloemfontein in ’n poskantoor in die ry gestaan en gesien hoe sy eie mense deur die beamptes verneder word. Hy het gesien hoe hulle hoed in die hand moet sukkel om hulself verstaanbaar te maak. Dit het sy "roepingsvisioen" geword.

God, deur sy Seun, leer en help ons dinge sien soos dit kan word. Deur Jesus leer ons om voor-sienig en ver-siende te word soos die Vader in die hemel. Deur die Gees leer ons om die Gekruisigde nou reeds op die troon aan die regterhand van die Vader te sien. Die eenvoudige verhaal van Jesus en Bartimeus leer ons, dat ons God se oë in hierdie blinde wêreld moet wees. God sê vir ons: "Voel soos Ek voel, dink soos Ek dink, sien soos Ek sien. Gaan uit en sien vandag met my oë!"


LEES GOU 'N SERMOEN

nuut Dertien kleure groen in die Bo-Kaap Markus 10:46-52 15/11/2000
  Die koning se nuwe vrou Markus 6:17-29 28/09/2000
  Can people do the work of God? Gasprediker: Vernon Robbins, Emory University, Atlanta Matthew 20:1-6 13/8/2000
  Die geheim van Josef se trane Gen 44 16/7/2000
  Die regte plek om te wees Joh 15:1-8 28/5/2000
  Vreemde ontmoeting onderweg na Emmaus Luk 24:13v. 7/5/2000
  Pilatus se Freudiaanse glips Joh 19:5 9/4/2000
  Laat jou perdebrein tem Matt 26:55-70; 1Joh 4:17-18 26/3/2000
  'n Jakkals prys sy eie stert 2 Kor 3:1-6 27/2/2000
  Ligsinnig, maar volgens wie se maatstaf? 2 Kor 1:12-24 13/02/20000
  Jesus se derde opsie Mt 5:39-48 11/10/1989
  Die redding van ons siele Op 3:14-22 08/11/1989
  Wees fluks! Spr 6:6-19 Gen1:26-28. 29/7/1999
  Geloof Gen 11:31-, Hebr 10:23- 13/09/199
  Waar die lydensgeskiedenis begin Gen 3 20/02/199
  Maak 'n knoop in jou das 1 Joh 2:24-29 02/05/1999
  Nuwe mense vir 'n nuwe wêreld Klaagl 5, Op 3:1-3 04/07/1999
  Loon: toekoms-kapitaal 1 Kor 9 26/09/1999
Jezus in het Midden, preek in Nederlands deur Ds J. H. Neethling Joh 19:18 voor 1904

Stuur jou naam vir 'n preek af en toe:



Soek: Gee sleutelwoorde...

Amazon.com logo



Bladsy geskep op 16 Feb 2000 deur Bobby Loubser