Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

Argief | Erediens-werkswinkel | Mtunzini-kerk


Boodskap gelewer in Mtunzini op 4 Julie 1999.

Nuwe mense vir ’n nuwe wêreld.

Skriflesing: Klaagliedere 5, Openbaring 3:1-3.

Het jy al ooit gewens jy kan jouself heeltemal verander? Dat jy jouself ’n mooier, slimmer, ’n suksesvoller mens kan maak?

Sommige vroue wat moeg is vir hul voorkoms, gaan na ’n modeberader: hulle verander hulle haarstyl, kleredrag. Soms is dit nie genoeg nie, dan gaan hulle na ’n plastiese chirug en verander hulle gesig, neus, ore of kurwes van watter aard ook al.

Ook mans het nodig om hulself te herontwerp. Michael Jackson, sê die mense, herontwerp homself elke paar jaar geheel en al.

Dit laat ’n mens wonder: As jy jouself kan herontwerp, wat sal jy jouself maak? Dan sou ons almal seker in filmsterre of sporthelde verander het, maar daar is dinge wat nie so maklik verander nie.

ONS KAN ONSSELF ANDERS WENS, MAAR IN HOEVERRE IS DIT MOONTLIK? Dit sou lekker wees om onssself soos ’n sywurm in ’n kokon te kon toespin, totdat ’n pragtige vlinder daaruit kan kom! Net so min as wat ’n luiperd sy kolle kan verander, net so min kan ’n mens jou eie natuur verander, sê die profeet.

AS ONS NIE KAN VERANDER NIE, IS ONS IN DIE MOEILIKHEID, WANT DIS ’N VEREISTE VIR ’N NUWE TOEKOMS. Die Bybel sê: God is besig om die wêreld nuut te skep, maar net getransformeerde mense is bevoeg om in die nuwe paradys te woon. Nuwe mense is nodig vir ’n nuwe wêreld.

As jy gewonder het waaroor hierdie boodskap gaan, dan weet jy nou: dit gaan oor die probleem van menslike transformasie! Dis ’n onderwerp waaroor ’n mens ’n slag diep kan nadink en al jou kreatiwiteit kan inspan. As jy ’n land wil transformeer, moet jy eers die mense van daardie land transformeer. Ons nuwe regering weet dit goed, daarom bestee hulle soveel geld aan onderwys: dit is die middel waardeur die nuwe geslag getransformeer moet word om ons land op te bou.

Die Bybel het ’n baie sterk woord vir transformasie, een wat baie misverstaan word: bekering.

In Klaagliedere 5:21 word ’n magtige versugting na vernuwing uitgespreek as die profeet sê: Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees. In Openbaring 3:3 sê die Here aan die siener: "Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos 'n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie."

BEKERING GAAN OOR TRANSFORMASIE. Die idee agter bekering is transformasie. Dis niks ander as die heronwerp van die mens nie. Transformasie en verandering kan baie dinge beteken, maar om dit ’n werklikheid te maak, moet ons by die wortel van die saak begin; by die verandering van ons menslike natuur self. Die verandering wat die Bybel vir ons voorsien, is baie meer ingrypend as wat deur onderwys kan plaasvind. Bekering is die algehele transformasie van die mens om tot jou volle geestelike en fisiese potensiaal te kom. Dit gaan om algehele vernuwing in jou lewe.

EN: DIS DIE VEREISTE VIR TOETREDE TOT KONINKRYK. Bekeer julle, sê Jesus in sy eerste preek, want die koninkryk van God het naby gekom. Net veranderde mense kan ’n nuwe toekoms binnegaan!

DIE WORTEL VAN DIE PROBLEEM: ONS MENSLIKE NATUUR. Volgens die Bybel is die mensdom onder die mag van sonde. Ons dink gewoonlik aan sonde as dinge wat ons verkeerd doen en waarvoor ons gestraf sal word. Maar dit is net ’n oppervlakkige siening. Die wortel van die sonde is die mens se natuurlike selfsugtige begeerte. Dis die selfsug van die mens, die beheptheid om ons eie begeerte te bevredig. [Ons praat van dwelmsug, vetsug, ens. Dis wanneer ’n mens so na iets versug dat jy jouself nie kan help nie. Die ergste sug wat die mens het, baie erger as die sug na kos of dwelms, is die selfsug.] Dis waar stryd en uiteindelike vervreemding en stagnasie vandaan kom. En dit is hierdie drang wat moet verander voordat ons en ons wêreld kan verander.

KAN ONS ONS NATUUR VERANDER? As ons rondom ons kyk, dan lyk dit nie so nie. Die mensdom het steeds nie beheer oor sy eie natuur nie. Mense kry dit nie reg om hul naaste soos hulself lief te hê nie. Ons hoef nie eens na die tv-beelde oor Kosovo te kyk nie, die tekens daarvan is reg rondom ons. Ten spyte van al ons tegnologiese ontwikkeling, kan ons steeds nie ons vyande liefhê nie. Ten spyte van al die plastiese chirugie, val Hollywoodsterre se verhoudings uitmekaar. Eintlik is ons selfsug iets waaraan ons min kan doen. Dis ’n natuurlike drang wat in ons ingebore word.

GOD HET ’N PLAN: DIT WAT ONS NIE KAN DOEN NIE, DOEN HY

God het die mens nie aan sy eie lot oorgelaat nie, maar tree uit eie inisiatief op om die mens van sy selfsugtige begeerte te bevry. Daarom het hy Abraham geroep en ’n verbond met hom gesluit deur wie al die nasies van die wêreld geseën sal word. Die Bybel berig hoe God herhaaldelik sy verbond vernuwe het totdat hy finaal sy eniggebore seun, Jesus Christus, as liefdesoffer aan my gegee toe ek nog vervreemd en ’n vyand van hom was. Dit beteken dat die allerhoogste God, sy allerkosbaarste besit gegee het om die allerlaagste dood aan die kruis vir my as sy vyand te sterf sodat ek nooit weer aan sy liefde hoef te twyfel nie. Deur die liefde wat God in Jesus Christus oor my uitgestort het my eie te maak, word ek in staat gestel tot werklike vernuwing. So het God ons menslike selfsug aan bande gelê, ons natuur omgekeer, ons die kans op ’n nuwe toekoms gegee. Die eerste deel van ons bekering—daardie deel wat ons nie kon doen nie—is reeds deur God self gedoen. Die versugting van Jeremia dat God self my tot hom moet bekeer, het ’n werklikheid geword.

ONS WERK is om dit in ons eie lewens waar te maak. Om nuut te begin moet ek my eie selfsug doodmaak. In die Ou Testament het mense offers na die tempel gebring. Die offers is keelafgesny en gebrand. Dis wat ek met my selfsug moet doen. Ek moet ’n holocaust op my selfsug uitvoer. Aan die kruis het Jesus sonde oorwin: ek moet my selfsug saam met hom aan die kruis laat spyker. Eers dan kan ’n opstanding—’n radikale vernuwing—plaasvind. Dis wat bekering is: om saam met Jesus my selfsug af te sterf sodat ek saam met hom ’n nuwe lewe kan leef sodat ek my naaste, self my vyande, kan liefhê.

VOORTDURENDE BEKERING. Bekering is deel van my normale geestelike lewe. Elke keer as ek tot God nader, moet ek my eie selfsug kruisig en opstaan in ’n nuwe lewe. Elke keer as ek bid, moet ek sê: "Bekeer my Here, sodat ek my kan bekeer. Ek lê my lewe as offer op die altaar, reinig my met u heilige vuur, breek my selfsug sodat die nuwe kan aanbreek."

Gewoonlik dink ons nie aan die kerk as ’n plek van vernuwing nie. Vir baie mense is die kerk juis ’n plek van stagnasie waarvandaan hulle so vinnig as moontlik wil wegkom. Dieselfde ou gesigte, dieselfde ou gesange, dieselfde ou storie! ’n Hele geslag "alternatiewe" jongmense het hulle van die kerk losgemaak en gebruik nou elke geleentheid om die kerk en die Christendom skuld te gee vir alles wat verkeerd geloop het in hulle lewens en in ons land.

Die meeste mense wat hierdie sal lees, sal egter weet waarvan ek praat, want julle is mense wat die lewe van bekering leef. Julle kruisig julself saam met Jesus, en leef saam met hom elke dag. Nie dat ons al volmaak is nie. Daar is voortdurende bekering nodig, maar ons het die hoop en sekerheid dat God besig is om elke dag aan ons te werk, om ons te transformeer, totdat ons uiteindelik soos Jesus is en saam met Hom ’n nuwe toekoms kan binnegaan!

x.x.x.x.x.x.x.x.x.x.x.x.x.x.x

[Terugvoer op hierdie boodskap: ’n paar ma’s het na die preek besluit dat hierdie eintlik ’n Vadersdag preek is. Selfsug is blykbaar nie ’n sonde van moeders nie; hulle sonde is om nie te weet wanneer om selfsugtig te wees nie!!!. Dit roep om ’n verdere preek….]

 



Kliek hierbo vir terugvoer of om e-pos adresse deur te gee

Bladsy geskep op 14 Feb 2000 deur Bobby Loubser