Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

Argief | Erediens-werkswinkel | Mtunzini-kerk


BOODSKAP GELEWER OP 26/9/99 TE MTUNZINI

AANLEIDING: "THE TAPESTRY OF EARLY CHRISTIAN DISCOURSE," VERNON ROBBINS.

LOON

1 KOR 9

I.

God het ’n snaakse manier van mense beloon. In sy oë is daar baie goeie mense wat reeds hulle betaling weg het en niks meer kan verwag nie. Eers wanneer jy iets bo en behalwe jou plig doen, kan jy vergoeding van Hom kan verwag. Hy beloon oorvloedige geregtigheid.

II.

Volgens die Wet het mense regte. Dit is nie net waar van ons landswet nie, maar ook van die Wet van Moses soos dit in Deuternomium uitgelê word. Hiervolgens het mense wat werk die reg op betaling.

1 Kor 9:9 In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: "Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie." Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer?10 of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang. ……

13 Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie?14 So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang.

Reg en geregtigheid is nodig vir ’n ordelike samelewing, maar wanneer mense kry wat hulle toekom, verdien hulle geen verdere betaling nie. Dit is slegs wanneer mense ter wille van ’n hoër doel hulle regte prysgee dat hulle loon van God kan verwag. Sulke mense bou vir hulle ’n skat op in die hemel. Dit is ook wat Jesus geleer het by verskeie geleenthede.

Matteus 5:46 As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?

Matteus 19:21 Jesus het hom geantwoord: "As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."

Ongelukkig is daar min mense wat hierdie insig het. Die meeste mense staan op hulle eie regte. Hulle het hulle betaling weg. Hulle het salaris, pensioen, annuïteite wat vir hulle in die toekoms wag nie. Hulle is vleeslik.

Regte is belangik, maar om die wêreld te red, is meer as net regte nodig. Regte is nie genoeg om verhoudinge te laat werk nie. Daar is tyd wat ’n mens volkome geregverdig is om op jou regte en voorregte te staan, maar wanneer dit steeds ’n vorm van dwaasheid is. Lank gelede het ek iets geleer wat my diep beïnvloed het. Iemand het vir my gesê: "Dit help nie jy wen jou punt en verloor jou man (jou menslikheid?) nie." Daar is geleenthede waar ’n mens volkome gelyk kan hê, maar jy nog steeds verkeerd kan wees. Goeie verhoudinge is belangriker as om hare te kloof oor wie hulle feite presies reg het, of wie die beste onthou of al die reëls nakom.

Mense wat op hul regte staan, sien nie die groter prentjie nie. Hulle is kortsigtig, self-gefokus.

In Korinte was daar sulke mense. Hulle kon nie die vrywillige opskorting van Paulus se regte verstaan nie. Hulle het hom gekritiseer, veroordeel, omdat hy nie soos die ander apostels opgetree het nie. Dit was so ver buite hulle denkraamwerk dat Paulus en sy sendingspan met hulle eie hande gewerk het en nie geld van die gemeente aanvaar het nie, dat hulle hom met agterdog bejeën het. Volgens hulle moes hy die een of ander skelmstreek in die mou gevoer het.

III.

Paulus is vir ons ’n voorbeeld. As apostel het hy sekere regte. Hy neem heelwat tyd om hierdie regte te verduidelik: hy kan ’n salaris verwag, hy mag trou en ’n vrou saamneem op sy reise. Dit was die geval met die ander apostels, en selfs met Petrus (Sefas) die leier van die apostels. Hierdie regte word gestaaf deur (a) algemene ervaring (b) wet van Moses (c) woord van die Here.

  1. 1 Kor 9:7 Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?
  2. Moses se wet is reeds aangehaal.
  3. 1 Kor 9:14 — Die Here Jesus het bepaal dat die wat die evangelie verkondig, onderhoud sal ontvang

Paulus besit al hierdie regte, maar maak nie daarvan gebruik nie.

Hy gebruik nogal ’n ingewikkelde argument om dit te verduidelik:

Eers sê hy dat hy vry is. Gelowiges is vry van die Wet en vry van die afgode. Hulle is vry om volgens hulle gewetens op te tree. Die genade in Christus maak gelowiges radikaal vry.

Dan gebruik hy ’n tweede argument. Dit is sy spog/roem/eer dat hy die evangelie gratis bring (hy sal eerder sterf as dat iemand hom van die eer beroof). Maar eintlik het hy niks om oor te spog nie, want hy doen dit nie werklik vrywillig nie — dis vir hom ’n noodsaak; dwang is hom opgelê; weë hom as hy dit nie doen nie; hy is maar net ’n slaaf wat moet doen wat hy moet.

Dan verander sy argument en praat hy eintlik teen homself, ’n ander storie as voorheen. Hy verduidelik: ’n mens het loon as jy vrywillig meer as jou deel doen. Hy is ’n slaaf aan wie dit opgelê is om die evangelie te bring; maar hy doen dit gewillig, as vry mens. Dus het hy loon! Hy kom in aanmerking vir die loon wat ’n mens kry as jy ’n skat in die hemel opgaar. As vrye mens doen hy meer as wat van hom verwag word.

Maar nou, laastens, kom hy met nog ’n verassende wending, ’n stuk ironie: Hierdie loon is nie ’n beloning in kontant of geluk nie, maar lê daarin dat die evangelie steeds verniet kan bring sonder om ’n sent van die gemeente te gebruik het. (Die werk wat hy doen is self die beloning!! 'n Argument soos om te sê die soektog is die vonds.).

Hy is vry, maar in vryheid kies hy om van homself ’n slaaf te maak, sodat hy menigtes kan wen.

1 Kor 9:19 Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.20 Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.21 Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen.22 Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.

Hy maak hom leeg van homself: hy word alles vir almal. Wie hyself is, tel niks meer nie. [Ek wonder wat Buddhiste hiervan sou sê: vermoedelik sal hulle hierin sien dat Paulus Nirvana bereik het.] [Jode sal verras wees oor sy ‘ongehoorsaamheid’ aan die Wet; hy is so ongehoorsaam dat hy dit beter nakom as al die ander wat probeer om dit na te kom. Ja, soms moet ’n mens ongehoorsaam aan die wet wees juis om dit beter te kan nakom!] Die Christene wat hom kritiseer moet nou duidelik verstaan dat Paulus vollediglik in die Gees van Jesus optree. Hy is ’n sunkoinonos van die evangelie; dit beteken ’n volledige deelgenoot. [Ek verstaan nie die fynere nuanse van wat hy hiermee bedoel nie. Beteken dit dat in sy lewe iets van die evangelie sigbaar word? Of beteken dit dat hy wel eendag beloning gaan kry? Of is dit dat almal nou onomwonde kan sien dat hy presies dit demonstreer waarvan sy evangelie getuig? Die woord suggereer dat hy die reg het om deur die evangelie onderhou te word, die einste reg wat hy prysgee. Laasgenoemde maak nie sin nie.]

Jesus, nog baie meer as Paulus, leer ons om ’n skat in die hemel op te hou. Waar ons skat is, daar sal ons hart ook wees.

Hy is die voorbeeld van iemand wat ’n skat in die hemel opbou: hy seën sy vyande, hy bid vir hulle wat hom kruisig; hy doen aan ander goeie dinge wat hulle nie aan hom kan terugdoen nie. In sy handeling met ons staan Hy nie op sy regte nie; hy is die nederige, die een wat alles gee, homself ontledig (Fil 2), wat niks terug verwag nie. Hy ly nie omdat hy sonde gedoen het nie, maar omdat hy ons liefhet. Dit is die dinge wat ’n mens ’n skat in die hemel besorg.

Jesus is ware en regverdig mens, en ware God. En al kan ons hierdie twee nature onderskei, kan ons hulle nie skei nie. Ons kan nie sê dat Jesus sommige dinge as mens gedoen het en dan weer ander dinge as God nie. Dit is is geheel en al teen die leer van die Bybel, en ook teen elke belydenisgeskrif wat ons het.

As Jesus te alle tye gelyktydig ware en regverdige mens en ware God is, beteken dit dat alles wat hy gedoen het ook die handeling van God in hierdie wêreld was. In Jesus vind ons dat God Homself verneder, Homself leeg maak en alles word vir almal. In Jesus se gebed vir sy vervolgers, vir ons, is God self aan die bid vir ’n wêreld wat Hom verwerp en minag. God self is besig om ons te wys hoe om ’n skat in die hemel op te bou.

Jesus stel ons in staat om dieselfde te doen. Hy gee ons die Heilige Gees. Die Heilige Gees is soos ’n skat in erdekruike. Ons sterflike liggame is die erdekruike, maar die Heilige Gees binne ons is soos ’n skat van goud wat al sigbaarder word, hoe meer ons liggaam afgetakel word.

IV.

Vanoggend toe ek hierdie boodskap oorgegaan het, het ek besef watter geweldige voorreg dit is om die evangelie te verkondig. Vandag kan ek ’n boodskap bring wat julle baie ryk kan maak met ’n rykdom wat niemand van julle kan wegneem nie.

Maak vir julle skatte bymekaar. Doen aan ander iets wat hulle nie kan terugdoen nie. Vergewe hulle wat jou nie wil vergewe nie. Help dié wat te hoogmoedig is om jou te help. Ly vir die evangelie, al is jy onskuldig. Gee sonder om terug te verwag. Wees pro-aktief in jou barmhartigheid.

Die Here gee jou regte.

Jy is vry.

Paulus se vryheid het gelei tot ’n ommekeer van die normale regsverhoudings; soveel so dat sy vryheid van hom, ironieserwys, vrywillig ’n slaaf gemaak het.

Waar dit die geval is, is die terugbetaling soveel groter, want werklike loon, hemelse loon, lê in die opskorting van jou reg op ’n aardse loon. Gaan voluit daarvoor!, soos Paulus, wat sê:

1 Kor 9:25 Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, .. doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike.26 Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie.



Kliek hierbo vir terugvoer of om e-pos adresse deur te gee

Bladsy geskep op 14 Feb 2000 deur Bobby Loubser