Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

PastorsNet

Welkom! Vandag is
Teken asb. Besoekersboek Bekyk Besoekersboek

Erediens-werkwinkel | Mtunzini-wyksgemeente | 'n Kort Gedagte vir die Dag


DIE GEHEIM VAN JOSEF SE TRANE

Genesis 37-46 (lees net 44:1-19); 1 Kor 1:26-27; Heb 5:7-9

I

Dis nie belangrik wie jy is of waar jy vandaan kom nie. Wat belangrik is, is waarheen jy op pad is. Dit sê wie jy werklik is, want dit is waar jy gaan eindig.

Josef, op sewentien, was soos ’n skoolseun wat nie geweet het wat hy verder met sy lewe moet doen nie, wat nie geweet het watter beroep hy moet volg of watter soort vrou hy moet soek nie. Hy kon ook geen idee gehad het van watter draaie en wendings sy lewe verder sou neem nie.

Maar Josef het drie dinge in sy guns gehad.

1. Wat hy gehad het, was ’n familiegeskiedenis. Nadat die ou wêreld deur die Groot Vloed verwoes is, en nadat die mense van die wêreld by die Groot Toring by Babel in konsternasie uiteen is, het God ’n nuwe begin gemaak deur Josef se oupagrootjie, Abraham te roep om na ’n nuwe land te trek waar hy ’n nageslag sou hê—so talryk soos die seesand en soveel as die sterre in die hemel.

Die jong Josef sou die romantiese storie gehoor het van hoe sy oupa Isak sy ouma Rebekka se hart gewen het. En hy sou maar te goed die storie geken het van hoe sy pa Jakob sy oom Esau so bedrieg het dat hy meermale vir sy lewe gevrees het. Elke keer as hy sy oorlede ma, Ragel, gedink het, sou dit hom herinner het aan hoe sy oupa Laban eers vir sy tante Leah aan sy pa afgesmeer het voordat hy met die vrou van sy hart kon trou.

2. Wat Josef verder gehad het, was ’n pa wat in hom geglo het. Eintlik was sy pa versot op hom en klein Benjamin, die enigste twee kinders van Ragel wat dood is met Benjamin se geboorte. Dalk het dit hom gepla dat sy pa hom bo sy ander broers voorgetrek het. Daarvan was sy kleed-met-die-baie-kleure die bewys. Ons vergeet soms dat die skep van ’n witbroodjie net so onregverdig is teenoor die een wat voorgetrek word as teenoor hulle wat afgeskeep word: dit verwoes die gesonde verhouding wat daar tussen almal moet wees. Nogtans het Josef geweet sy pa glo in hom.

3. Josef het nog iets gehad: ’n droom dat hy vernaam gaan wees. Son en maan en sterre sal voor hom buig, nes die koringgerwe op die land. Sy broers het natuurlik nie ’n dr. Freud nodig gehad om hierdie drome te verklaar nie: hulle het geweet dit kom uit die onderbewuste van ’n arrogante tiener, en hom daarvoor gehaat.

Stel julle voor hoe Josef daar in die put lê en wroeg waar sy broers hom gegooi het. Hy is half-kaal want hulle het sy kleed-met-die-baie-kleure afgeskeur en bloedbevlek teruggestuur na sy pa met die tragiese gerug dat ’n roofdier hom opgevreet het. Vir hom het die lewe het ’n swenk na die verkeerde kant toe geneem. Selfs toe hy aanstons in kettings na Egipte onderweg is, moes hy gewonder het wat die Skepper se bedoelings met hom kon wees. Maar hy het drie dinge aan sy kant gehad wat hom gehelp het om te weet waarheen hy op pad is: ’n familiegeskiedenis, die vertroue van sy pa, en ’n droom wat hy geglo het van die Skepper self kom.

Wat later in Egipte in Potifar se huis gebeur, verloop soos ’n seep opera. Behalwe dat in seep operas, soos "Loving" daar geen beweging na ’n einde is nie, geen sluiting. Die plot beweeg vir immer sywaarts. Josef maak blitsig opgang. Die teks sê: "Josef was fris gebou en mooi." Mevrou Potifar gee net een kyk na Josef en soos ’n moderne Miesies Robinson, sê sy vir hom: "Kom slaap by my." En dag vir dag hou sy aan. Maar in hierdie verhaal is daar sluiting, want (soos die spreekwoord sê) Josef is nie "van hier rond nie". Hy het ’n bestemming, hy is iemand met ’n toekoms. Dus kan hy vir haar mooi volwasse verduidelik:

  • "Meneer [Potifar] steur hom aan niks vandat ek hier is nie. Wat hy besit, het hy onder my sorg geplaas. Daar is niemand wat in hierdie huis meer gesag het as ek nie. Meneer het niks van my teruggehou nie, behalwe vir u, want u is sy vrou. Hoe kan ek so 'n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!" (Gen 39:8-9).
  • Sy neem hierdie verduideliking nie goed nie. Soos William Congreve sê: "Hel is nie so vurig soos ’n vrou vernederd nie." Dus vind ons vir Josef in die tronk saam met die bakker en die skinker van die koning, vals beskuldig van molestering deur Mev. Potifar.

    Weer eens is dit Josef, die jong man met ’n toekoms, wat bo uitkom. Hy is die een wat sy kop bymekaar kan hou as ander nagmerries kry. Hy weet van watter stoffasie drome gemaak word, en lê die skinker en bakker se tronkdrome uit.

    "Vertel my julle drome," sê Josef. Die skinker vertel: Hy sien drie lote uit ’n wingerdstok groei. Dit het kwalik gebot of daar is blomme, en toe is die trosse druiwe ryp. Hy het die farao se beker in sy hand, en druk die druiwe daarin en gee die beker vir die farao.

    "Oor drie dae is jy weer die farao se skinker," verklaar Josef. "Doen dan vir my ’n woord by die farao."

    Die bakker droom hy dra drie mandjies met geurige brood op sy kop. Die voëls kom vreet die farao se brood uit die boonste mandjie. Josef verklaar: "Oor drie dae gaan farao jou aan ’n paal ophang en die voëls gaan jou vleis afpik."

    Alles gebeur net so, en ’n ruk later, toe die farao self deur drome van vet en maer koeie en koringare gepla word, herinner die skinker hom aan iemand in die tronk wat drome uitlê. En so word Josef onderkoning van Egipte, die mees beskaafde land in die wêreld, daar waar die Nyl rustig onder die piramides verby vloei. Jy kan nie ’n man met ’n hemelhoë bestemming vir altyd onderdruk nie!

    Nou kry Josef kans om sy posisie te konsolideer. Hy doen goed vir homself en vir die hele Egipte. Farao gee hom die tweede beste wa en die mooiste klere in die hele Egipte. Hy beplan die kosvoorraad dat dit vir die maer jare sal hou. En dan breek daardie jare aan soos farao gedroom het. Nou het Josef kans om sy vernuf te wys, maar dan neem sy lewe ’n draai wat hy die minste verwag het. Iets gebeur wat hom voor die grootste toets van sy hele lewe stel. In vergelyking met hierdie toets, sou die beproewing wat hy in die put, by Potifar se vrou, in die tronk of voor die farao moes verduur, heeltemal verbleek: sy wrede en moordlustige broers daag op in Egipte, verleë vir kos as gevolg van die hongersnood wat tot in die Beloofde Land sy letsels laat.

    Een woord van die onderkoning van Egipte en hierdie broers sou soos die bakker aan pale hang waar die honger voëls hulle vleis kom afpik. Josef besluit om hulle te martel. Hy speel kat en muis met hulle. "Julle is spioene!" sê hy deur die tolk vir hulle. "Nee Meneer," antwoord hulle, "ons het net kom graan koop. Ons is eerlike mense." Josef hou vol: "So seker as die farao leef, julle is spioene!" Drie dae lank hou hy hulle in hegtenis. Dis toe dat hulle onder mekaar begin praat sonder om te besef hy kan hulle Hebreeus verstaan. Ruben die oudste sê hulle word nou gestraf oor wat hulle destyds aan Josef gedoen het.

    Dis toe dat Josef die eerste van baie trane stort. Hy gaan waar hulle hom nie kan hoor of sien nie en huil sy hart uit. Dis jare se aggressie en verlange wat in hom opwel. As hy terugkom, neem hy die broer Simeon as gyselaar totdat die ander met hul jongste boer Benjamin sou terugkeer.

    Nog driemaal sal die onderkoning van Egipte deur trane oorweldig word voordat die storie afloop. Sy broers vertrek terug na Kanaan en ontdek hul beursies in hul graansakke. Hulle skrik hulle uit hulle verstand uit, en protesteer nie toe vader Jakob volstrek weier om Benjamin saam met hulle te laat teruggaan nie. Aan Simeon wat baie maande in die tronk in Egipte moet kwyn, dink hulle nie. Eers as die honger hulle knaag, maak hulle soos hulle beloof het. Hulle trek met donkies op na Egipte met Benjamin en ’n dubbele betaling vir die graan.

    Hierdie keer word hulle in Josef se huis ontvang. Selfs die donkies kry kos en hulle voete word gewas. Josef verneem hoe dit met sy pa gaan en ontmoet vir Benjamin. Dis toe dat hy haastig moet padgee na sy kamer om daar te gaan huil, want sy gemoed was vol. Dit was die tweede keer dat hy deur trane oorval word.

    ’n Derde keer bars hy in trane uit. Dis toe sy polisie die broers na hulle vertrek aangekeer. Hulle is daar weg met sakke vol graan en al hul geld, en sonder dat hulle dit weet, met Josef se silwerbeker wat hy vir waarsê gebruik, bo in Benjamin se sak. Hulle val voor Josef neer. Hy’s kamma kwaad en wil weet: "Waarom het julle dit aangevang? Julle weet tog dat ’n man soos ek voorspellings moet doen?" "God het ons sonde aan die lig gebring," antwoord hulle. Die broers bieg en bely en bied hulself aan as slawe, hy moet net nie vir Benjamin as slaaf agterhou nie. Dan lees ons in 45:1-5 van die derde tranedal:

  • Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het.

    Toe sê Josef vir sy broers: "Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?" Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. Maar hy het vir hulle gesê: "Kom na my toe!" en toe hulle nader kom, sê hy: "Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.

  • Die vierde en laaste maal wat Josef huil, is toe sy broers met hul gryse vader Jakob uit Kanaan aankom in die Gosen-streek van Egipte om daar te woon. Josef het sy spogwa ingespan om sy pa te gaan ontmoet. Toe Josef hom sien, het hy hom omhels en lank so gestaan en huil. Jakob sê vir hom: "Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!"

    Dis nie belangrik wie is en waar jy vandaan kom nie. Dis waarheen jy op pad is wat tel. Josef die dromer het ’n toekoms gehad, ’n bestemming. En dit het die verskil in sy lewe gemaak. Op die mees kritieke tyd in sy lewe, op daardie punt toe hy tussen wraak en vergifnis moes besluit, was dit wat die verskil gemaak het. Hy het alle rede gehad om hom op sy broers te wreek, maar viermaal is hy deur trane oorval. In plaas van bloed te vergiet, huil hy liewers. Ons dink dit net sissies wat huil, maar die geheim van Josef se trane is dat hy iemand was met ’n bestemming. Dis hoekom hy die regte ding in die moeilikste omstandighede kon doen. Omdat hy ’n man met ’n bestemming was, kon hy ’n plan sien in al die sleg wat met hom gebeur het. Daarom kan hy vir sy broers sê: "Julle moenie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red." Wat gebeur het, al die onreg, het met ’n plan gebeur. Sodat drome, wat van God self kom, in vervulling kon gaan. Sodat die storie van God se bemoeienis met Abraham, Isak en Jakob kon voortgaan om vertel te word.

    II

    Liewe gemeente!

    Mense wat van buite na ons kyk, mag dink ons is onbenullig.

    Ons kan van onsself ook sê soos Paulus van die gemeente in Korinte, ons het "nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien" onder ons nie. Dit maak egter nie saak wie ons is nie.

    Wat saak maak, is waarheen ons op pad is, want "wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam" (1 Kor 1:26-27).

    Wie jy is, is nie belangrik nie. Waar jy heen op pad is, dis wat tel.

    Van Jesus self word gesê dat dit sy sin vir bestemming was wat hom deurgedra het deur hierdie tranedal. Hebr 5:7-9

  • "Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God."

    Jesus het "deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword."

  • Dit laat ons met die vraag wat elkeen homself en haarself kan afvra vanoggend: Wie is ek eintlik? Waarheen is ek op pad. Waar gaan ek eindig?

    Waarheen is jy op pad? Wat is jou droom?

    So seker as God aan jou sy liefde deur Jesus gegee het, so seker sal jy jou droom bereik!

    Amen.

     

    LEES GOU 'N SERMOEN

     

    nuut Die regte plek om te wees Joh 15:1-8 28/5/2000
      Vreemde ontmoeting onderweg na Emmaus Luk 24:13v. 7/5/2000
      Pilatus se Freudiaanse Glips Joh 19:5 9/4/2000
      Laat jou perdebrein tem deur volkome liefde Matt 26:55-70; 1Joh 4:17-18 26/3/2000
      'n Jakkals prys sy eie stert 2 Kor 3:1-6 27/2/2000
      Ligsinnig, maar volgens wie se maatstaf? 2 Kor 1:12-24 13/02/20000
      Jesus se derde opsie Mt 5:39-48 11/10/1989
      Die redding van ons siele Op 3:14-22 08/11/1989
      Wees fluks! Spr 6:6-19 Gen1:26-28. 29/7/1999
      Geloof Gen 11:31-, Hebr 10:23- 13/09/199
      Waar die lydensgeskiedenis begin Gen 3 20/02/199
      Maak 'n knoop in jou das 1 Joh 2:24-29 02/05/1999
      Nuwe mense vir 'n nuwe wêreld Klaagl 5, Op 3:1-3 04/07/1999
      Loon: toekoms-kapitaal 1 Kor 9 26/09/1999
    Jezus in het Midden, preek in Nederlands deur Ds J. H. Neethling Joh 19:18 voor 1904

    Stuur jou naam vir 'n preek af en toe:



    Soek: Gee sleutelwoorde...

    Amazon.com logo



    Bladsy geskep op 16 Feb 2000 deur Bobby Loubser