Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

PastorsNet

Welkom! Vandag is
Teken asb. Besoekersboek Bekyk Besoekersboek

Erediens-werkwinkel | Mtunzini-wyksgemeente | 'n Kort Gedagte vir die Dag


Pilatus se Freudiaanse Glips

Vyfde lydensweek 9 April 2000, Mtunzini

Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: "Dit is die mens!" Joh. 19:5

I

Wat is dit om mens te wees? ’n Probleem met tieners is dat hulle so vinnig ontwikkel dat hulle nie meer weet hoe om hulself te gedra nie. Een oomblik is hulle boom-klimmende kleuters. Die ander oomblik waardige jong mans en dames. Dis dan wanner hulle vra: Wie is ek? Die groter vraag daaragter is: Wat is dit om ’n mens te wees? Volgens Johannes 19:5 kan ons by Jesus ’n antwoord op hierdie vraag kry. God rus ons toe met selfkennis en help ons om gebalanseerde lewens te lei.

II

Om te weet wie ons is, is natuurlik nie net ’n probleem van tieners nie. Ook nie net van mense in hulle middeljare nie. Veel mense word oud sonder selfkennis. Dit gaan om ’n gesonde mensbeskouing waarsonder mense in gebreke bly om die regte ding in die regte situasie doen. Die gevolg is dat hulle die slagoffers van omstandighede word. Nog erger: hulle maak ander tot slagoffers.

Pontius Pilatus wat in Johannes 19:5 na vore tree, is so ’n karakter. Ons weet nogal heelwat van hierdie onstabiele en wrede mens se lewe wat in die jaar 26 n. C. goewerneur van Judea geword het. In hierdie belangrike posisie was hy verantwoordelik vir die toepassing van die briljante Romeinse reg. Maar hy was ’n swak beoordelaar van menslike karakter en het telkens oordeelsfoute begaan, soos byvoorbeeld die keer toe hy die Romeinse vaandels in Jerusalem in die tempel gebring het. Telkens het dit tot opstand en bloedvergieting gelei.

Voor hom, op die dag van Jesus se verhoor, is ’n toneel wat sy hart in twee sny. Hy vind niks omtrent die beskuldigde wat die doodstraf regverdig nie, maar hy besef hy moet iets doen om sy siedende vervolgers te paai.

Waarom hy Jesus laat gésel het, weet ons nie. Het hy gedink so ’n wrede pyniging sal die Jode gelukkig maak? Wat ’n spektakel! ’n Onskuldige se rug geslaan tot ’n bloedige pappery om ’n onredelike skare te bevredig. Selfs grusamer as beskrywings van Steve Biko se laaste ure.

Die soldate het hulle eie speletjie begin en hom ’n doringkroon gegee en ’n pers mantel en hom gespot. Sou hulle die betekenis van die dorings besef het? Dit simboliseer die verwydering van God en verteenwoordig die pyn en vloek van sonde (Gen 3:17-18). So word Jesus se spotkroon simbolies van al die vloeke in die Bybel. Hy is die man van smarte van Jes. 52.

Nou staan hy daar in die spotklere van ’n koning. "Heil, koning van die Jode!" het die soldate hom herhaaldelik toegesnou. In sulke situasies kom mense se ware kleure te voorskyn.

Dit roer die hart van Pilatus. Hy begin sy verhoor op ’n regverdige trant, maar uiteindelik gee hy toe aan selfsugtige oorwegings nadat die Jode kom afpers: "As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie." Sy gevoel vir ander mense strek slegs sover as sy eie belange toelaat. Dus stuur hy ’n mens onskuldig na sy kruis.

Was Pilatus ’n beter beoordelaar van die menslike natuur, sou hy nie so ’n onreg begaan het nie. Die les wat hy kortgekom het, was besig om voor sy oë gestalte aan te neem.

III

In ’n oomblik van onbesonne helderheid uiter Pilatus ’n woord wat aandui dat Jesus op sy lydensweg ons presies wys wat die mens is.

Johannes 19:5 berig: Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: "Dit is die mens!" (ecce homo; idou o anthropos)

Die uitspraak, "Dit is die mens!" is dubbelsinnig bedoel. Dit kan beteken: "Hier is hy" (neutraal). Of dit kan neerhalend verstaan word: "Kyk die vent." Watter een van die twee dit was, weet ons nie nie, maar soms sê ’n mens iets sonder dat jy presies besef wat jy sê, maar wat nietemin die waarheid van ’n situasie oopvlek. Vandag noem ons dit ’n Freudiaanse glips. Hoëpriester Kajafas het ook so ’n glips gehad. Voor die Joodse Raad het hy verklaar: "Dis voordeliger dat een vir almal sterf." Nou het Pilatus so ’n glips. "Sien, kyk, aanskou die mens."

In die latere oorvertel van Jesus se verhoor sou almal tot vandag toe nog by hierdie uitspraak van hom vashaak. Watter ironie dat Pilatus sy gehoor oproep om Jesus die mens te aanskou sonder om een oomblik te begryp dat dit die definisie van menswees is wat voor sy oë staan!

Later sou dit mense aan ander beroemde uitsprake herinner: "(Kyk!) hier is my dienaar…" (Jes. 42:1 in die oorspronklike herinner aan die Griekse teks van Joh. 19:5). Ook Johannes die Doper se woorde herinner hieraan: "Kyk … die Lam van God." Deur die geloofsoog word "Kyk die vent" uiteindelik "Aanskou die Mens".

"Kyk!" Om ’n verantwoordelike en gebalanseerde mens te wees, hang af van jou perspektief. Eenmaal het Jesus sy dissipels geleer dat die oog van die mens soos ’n lamp is. As die lamp reg skyn, kan die mens sien en alles wat hy doen is in die lig. Met ander woorde: ons perspektief op sake kan van deurslaggewende belang wees.

Pilatus nooi sy gehoor om na Jesus te kyk, maar dit laat ons met die vraag: Hoe sien jy Jesus as hy met doringkroon en pers mantel deur die soldate bespot word?

  • Vir die skare wat sy dood soek, is Jesus die sondebok. Hulle is so verblind deur sy onskuld dat hulle slegs ’n vyand kan sien wat moet sterf.
  • Vir Pilatus is hy ’n objek van simpatie. Ongelukkig is simpatie nie genoeg om die maak van onskuldige slagoffers te verhoed nie.
  • Miskien sien jy Jesus as mens soos jy? Op sy kruisweg is Jesus vir gelowiges die definisie van wat dit is om mens te wees, in al sy vervloeking en in al sy genade. Dit is al ’n beter manier van sien.
  • Maar daar is nog ’n indringender perspektief: Jesus is die Seun van God wat plaasvervangend vir ons intree en ons vloek, skande en pyn op hom neem. Kyk jy so dat jy hom as offer van God se liefde sien, een wat red deur jou hart te vermurwe en jou tot ’n katarsis bring?

Jesus op sy kruisweg onthul ons essensiële mensheid. Dit wys tot watter wreedheid ons in staat is, maar ook dat ons in staat is om dit saam met hom te oorwin. Nog meer, terwyl hy my vloek gedra het, het hy ook my kroon gedra. Hiervan getuig Paulus:

  • Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word (Gal 3:13).
  • Dieselfde Jesus wat so wreed gekroon is voor Pilatus, is die een wat uiteindelik deur God gekroon word. Al was hy spottend gekroon, sal hy gekroon word in majesteit, soos ons in Openbaring hoor:

  • En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van 'n groot watermassa. In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn (Openbaring 1:12-16).
  • Hoe sien jy Jesus?

    IV

    Ons lewensweg is met dorings bestrooi. Pyn, skande en dood is ’n werklikheid. Hoeveel vloek en spot kan ons dra? Dit vat aan ons waar ons nie gevat wil wees nie. Dit bring die lelikste in ons uit. Ons velletjies is maar dun.

    Tog het Jesus ons vloek en spot op hom geneem het deur een van ons te word. Sy kroon van dorings help ons langs hierdie weg.

    By Jesus voor Pilatus, leer ons wat dit is om mens te wees. So word ons in staat gestel om die mens te ken. Aanskou die mens! So kan ons verantwoordelik en gebalanseerd lewe.

    ***

    Gebed: Here Jesus, gee dat ek u sal sien met die oog van geloof, dat ek met heilige blydskap en verwondering, liefde en lof, u heerlikheid sien, sodat my verbryselde siel mag herleef met verlange na u en u elke dag mag aanskou, totdat geloof oorgaan in aanskoue en hoop afgelos word deur vervulling.

    LEES NOG 'N PREEK

     

      Laat jou perdebrein tem deur volkome liefde Matt 26:55-70; 1Joh 4:17-18 26/3/2000
      'n Jakkals prys sy eie stert 2 Kor 3:1-6 27/2/2000
      Ligsinnig, maar volgens wie se maatstaf? 2 Kor 1:12-24 13/02/20000
      Jesus se derde opsie Mt 5:39-48 11/10/1989
      Die redding van ons siele Op 3:14-22 08/11/1989
      Wees fluks! Spr 6:6-19 Gen1:26-28. 29/7/1999
      Geloof Gen 11:31-, Hebr 10:23- 13/09/199
      Waar die lydensgeskiedenis begin Gen 3 20/02/199
      Maak 'n knoop in jou das 1 Joh 2:24-29 02/05/1999
      Nuwe mense vir 'n nuwe wêreld Klaagl 5, Op 3:1-3 04/07/1999
      Loon: toekoms-kapitaal 1 Kor 9 26/09/1999
    Jezus in het Midden, preek in Nederlands deur Ds J. H. Neethling Joh 19:18 voor 1904

    Stuur jou naam vir 'n preek af en toe:



    Soek:

    Gee sleutelwoorde...

    Amazon.com logo



    Bladsy geskep op 16 Feb 2000 deur Bobby Loubser