Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

PastorsNet

Welkom! Vandag is
Teken asb. Besoekersboek Bekyk Besoekersboek

Erediens-werkwinkel | Mtunzini-wyksgemeente | 'n Kort Gedagte vir die Dag


Die regte plek om te wees

Gelewer te Mtunzini 21 Mei 2000

Johannes 15

1 "Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3 Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4 Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

 

Vooraf vir die kinders

Hier het ek twee takke, die een is droog en goed vir vuurmaakhout. Die ander is nog vol groen blare. As jy een van hulle kon wees: Watter een kies jy? Die een tak is gesond en lyk lewendig, maar die ander is dood. Daar is niks wat ons kan doen om dit te red nie. Wat het ’n tak nodig om aan die lewe te bly? [Son en reën.] Wat hierdie tak doodgemaak het, is die feit dat dit so ’n paar maande gelede van die boom afgebreek is. Die res van die boom het aanhou groei, maar hierdie tak het doodgegaan—selfs al het dit genoeg son en reën gekry. Ook hierdie lewendige tak is besig om dood te gaan. Tensy ons dit inent op ’n ander boom sal dit net so droog en stokkerig soos die dooie tak word. Maar as ons dit inent in ’n ander boom sal dit weer mooi blare maak en vir ons skadu gee. Jesus vergelyk ons as gelowiges met takke van ’n wingerdstok. Hy is die wingerdstok en ons die lote. As ons deel is van die wingerdstok dan is ons regtig lewendig en dra ons goeie vrugte, maar as ons afgebreek word van Jesus, dan raak ons verstok en kan ons niks goeds doen nie. As ons in hom bly, vloei die liefde deur ons soos sap deur ’n wingerdstok na die takke toe vloei. Dan sal ons lewe en die wonderlike vrugte van goeie werke en God prys.

 

PREEK

I

Die woord "boer" het allerlei bybetekenisse in Afrikaans en dis daarom nogal skokkend om te verneem dat God 'n "boer" is in die beeld wat Jesus gebruik van die wingerdstok. Dit is maar net ’n manier om te sê dat God vir alles sorg wat ons nodig het om vrugbare lewens te lei, om gebalanseerde en gelukkige mense te wees.

Jesus se beeld kom met hemelhoë beloftes: "Wie in My bly dra baie vrugte." "As julle in my bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê en julle sal dit kry." Die geheim van hierdie beloftes is eenvoudig: God is die landbouer en Hy sal dit waar maak as ons in Jesus bly soos die lote in ’n wingerdstok.

Daar nog is ’n wonderlike waarheid in hierdie beeld. Dit herinner ons daaraan dat ons uit genade gered word en nie uit onsself nie, nie op grond van wie ons is en wat ons doen nie, maar op grond van ’n verhouding met die Bron van Lewe. Selfs in die Ou Testament gaan dit ten diepste nie om die nakom van oppervlakkige reëls nie, maar om ’n verhouding met ’n lewende Skepper. Die goeie in ons lewe is iets wat God self in ons skep as ons in die regte verhouding met Hom leef.

II

Die storie word vertel van ’n eenvoudig man uit die platteland wat met Kersfeestyd vir die eerste maal in die stad gekom het en hom aan al die liggies verwonder het. Hy kon nie rus voordat hy ’n string gloeilampies in die hande gekry het nie. Opgewonde het hy na sy dorpie in die berge teruggegaan en die liggies om ’n boom gedrapeer. Tot sy teleurstelling het niks gebeur nie. Dit wou nie begin skyn en flits soos die liggies in die stad nie. Eintlik is dit ’n tragiese storie: hy het so ’n groot verwagting gehad, maar het niks van elektrisiteit verstaan nie. Hy het almal geroep om te kom kyk, maar niks het gebeur nie. Daar was net ’n klomp dooie liggies aan die boom.

As Jesus vandag geleer het, sou Hy so ’n beeld kon gebruik om te verduidelik dat ons alleen die lig van ware menswees kan geniet, as ons gekoppel is aan die Bron van alle energie, met die liefdevolle en genadige Skepper. Alle mense wil goeie dinge doen. Ons wil nie ons kosbare tyd mors nie, maar ons bly so besig dat ons aan uitbranding begin ly—dokters, onderwysers, bouers, huisvroue, klerke ens. Ons wil goed doen, maar raak gefrustreerd en kwaad en moeg. Ons vermoë om te werk verminder en ons weet nie wat fout is nie.

Tog is daar ander mense wat aanhou om die regte dinge te doen en skynbaar nie moeg word nie. Ek dink dis omdat hulle gekonnekteer is aan ’n kragbron; ’n bron van sorg en hoop, van liefde en genade. Hulle kan ’n glas water gee aan hulle wat dors is, ’n vriendelike woord aan almal, ’n omhelsing aan hulle wat alleen voel, ’n genesende hand op mense lê wat dit nodig het. Sulke vrugte is die produk van ’n intieme verhouding met God. As ’n plant in goeie grond geplant is en die regte bemesting en genoeg son en reën kry, dan kan al die normale prosesse plaasvind. Sulke plante hoef nie te besluit om vrugte voort te bring nie; hulle moet maar net op die regte plek wees.

Ons wat vandag die naam van Jesus bely, ons glo dat ons in beginsel al saam met Jesus uit die dood opgestaan het. Ons het die vermoë om ontsaglike hoeveelhede vrugte te dra, want die toestande vir ons groei is perfek. Al wat ons moet doen, is om as lote deel van die Wingerdstok te bly. Dan word die eerste psalm vir ons waar: soos bome geplant by waterstrome lewer ons vrugte op tyd.

Maar, gebeur dit in ons lewens? Is daar regtig vrug in ons lewens of karring ons maar voort? Ons hou vergaderings, basaar, samel geld in, besoek mense, trou, doop, katkiseer ens. Maar is daar vrug? Ek bedoel: is ons nie soos die lote wat net groei en wonderlike blare maak, maar geen vrugte nie? Wanneer laas het iemand deur ons tot inkeer gekom, iemand wat ’n lewe van losbandigheid gestaak het en regtig kreatief en liefdevol begin lewe het? Dink aan die vrugte van die Gees in Gal 5:22 — waar is hulle? Natuurlik is daar vrugte, maar kan ’n mens hulle tussen al die blare sien?

Vir sy dissipels leer Jesus dat ’n loot wat nie in die wingerdstok geanker is nie nog ’n rukkie mooi kan vertoon, maar dit sal onvermydelik verweer. Lote wat nie vrug dra nie, word verwyder. Dit dui op ’n onvermydelike oordeel. ’n Loot of tak wat nie meer in die stam is nie, verwelk en gaan dood en belemmer die ander wat wel vrug dra. Dis die natuurlike verloop van dinge.

III

Wat kan ons doen?

Dink aan die kruis agter die kansel in ons kerkgebou. Dis ’n leë kruis. Dit staan vir die storie van Jesus se liefde, gesimboliseer deur sy dood en oorwinning. Stel julle voor dat daar groen en welige lote uitgroei. As ek kon, het ek vandag in plaas van te preek sommer ’n kwas geneem en groen en welige lote geskilder wat uit die kruis uit groei. Die oorheersende kleur sal egter pers wees: vir sappige pers druiwe. ’n Hele muur vol.

In Johannes 15 gee Jesus ons ’n beeld. Terwyl ons nie beelde van God mag maak nie, is daar tog brokkies beeldspraak wat Jesus sy dissipels leer. Ons benodig beelde, want die dinge van die Gees is onsigbaar en in ’n sekere sin onsegbaar. Een beeld roep ’n ander, roep ’n ander en nog ’n ander.

Hier in Natal se suikerriet monokultuur is die beeld van die wingerdstok nie besonder gewild nie. Maar kom ons dink oor wingerdstokke. In die winter sien ’n mens net die knoetse. Dis lekker braaihout. Dit lyk nie of dit goed kan wees vir enigiets anders nie. Elke wynboer weet daar is twee dinge nodig vir ’n goeie oes:

1. Alle dooie hout en bas moet verwyder word, want dis waar die goggas skuil.

2. Nuwe lote moet drasties terug gesnoei word.

Dieselfde is nodig vir ons groei. Vir sy dissipels sê Jesus: Julle is alreeds gesnoei deur die woorde wat ek julle geleer het. Sy woorde het ’n snoei-effek. Dit het ’n skerp kant. Dit maak seer. As jy dit nog nie so gehoor het nie, het jy dit nog nie gehoor nie. Dink aan wat hy gesê het oor:

  • Gaan verkoop alles.
  • Wie is my familie?
  • Neem jou kruis op.
  • Soek eers die koninkryk.

’n Dissipel is iemand wat reeds gesnoei is. Dis wat in die skool van Jesus gebeur. Sy woorde is die snoeiskêr. As wingerdstokke reg gesnoei word, lyk of die stokke sal doodgaan, maar dis ’n proses van reiniging. Eers dan kom die vet, soet, sappige druiwe. Ook dit is ’n natuurlike verloop. So is dit ook in die lewe van ’n dissipel.

IV

Om in Jesus te bly, is om God se liefde vir die wêreld te deel, ook sy pyn en smart vir ’n wêreld in sy nood. Dis om saam met Hom ontroer te word deur die drome en vergeefsheid van ons medemense. Dis God liefde wat hom gedring het om die grootste offer te bring: sy eie Seun aan die kruis. Dit kan ’n verskil maak. Om in Jesus te bly, beteken om in kontak met die liefde van die Skepper te leef. Nog meer: om in Jesus te bly, het vir sy dissipels beteken om sy woorde van buite te ken en hulle op te voer. Hulle moes hulle lewens daarop skoei, Hom naboots en volg.

Om in Jesus te bly, is die regte plek vir ’n Christen is om te wees. Dis normale Christenwees. Om in hom te bly, is ’n kwessie van hart en wil. Dis veel meer as om net kerktoe te gaan en jou Bybel te lees. Bly in Jesus, dan kom die vrugte van liefde, vrede, verdraagsaamheid en geregtigheid en dankbaarheid vanself.

Soos aan die begin gesê: daar is ’n stuk genade in Jesus se uitspraak: Ek is die wingerdstok en julle die lote. Die lote hoef nie te besluit om vrugte te dra nie. God het die Wingerdstok Jesus in ons midde geplant. Wanneer ons op daardie stok ingeënt is, wanneer ons op die regte plek is, gee Hy ons alles wat nodig is om te groei. Al wat ons moet doen is om deel van die wingerdstok te bly. Dan kom die vrugte onvermydelik. Vrugte wat hom plesier gee en vir ons goed is.

Aan hulle wat soek om in hom te wees, gee God alles wat hulle vra. Hy bring dit na vore wat reeds in ons geskep is en maak ons wat ons bestem is om te wees: ’n seën vir die wêreld tot lof van ons Tuinier en Koning. Amen.

 

LEES NOG 'N SERMOEN

 

nuut Die regte plek om te wees Joh 15:1-8 28/5/2000
  Vreemde ontmoeting onderweg na Emmaus Luk 24:13v. 7/5/2000
  Pilatus se Freudiaanse Glips Joh 19:5 9/4/2000
  Laat jou perdebrein tem deur volkome liefde Matt 26:55-70; 1Joh 4:17-18 26/3/2000
  'n Jakkals prys sy eie stert 2 Kor 3:1-6 27/2/2000
  Ligsinnig, maar volgens wie se maatstaf? 2 Kor 1:12-24 13/02/20000
  Jesus se derde opsie Mt 5:39-48 11/10/1989
  Die redding van ons siele Op 3:14-22 08/11/1989
  Wees fluks! Spr 6:6-19 Gen1:26-28. 29/7/1999
  Geloof Gen 11:31-, Hebr 10:23- 13/09/199
  Waar die lydensgeskiedenis begin Gen 3 20/02/199
  Maak 'n knoop in jou das 1 Joh 2:24-29 02/05/1999
  Nuwe mense vir 'n nuwe wêreld Klaagl 5, Op 3:1-3 04/07/1999
  Loon: toekoms-kapitaal 1 Kor 9 26/09/1999
Jezus in het Midden, preek in Nederlands deur Ds J. H. Neethling Joh 19:18 voor 1904

Stuur jou naam vir 'n preek af en toe:



Soek: Gee sleutelwoorde...

Amazon.com logo



Bladsy geskep op 28 Mei 2000 deur Bobby Loubser