Soek SA
  
 

Altavista

Infoseek

SA Godsdiens-akademie

NT Werkgemeenskap van SA

NT Bronne

Neotestamentica

Society of Biblical Literature

Tuisblad van Bobby Loubser

Argief | Erediens-werkswinkel | Mtunzini-kerk


SONDAG 29 AUGUSTUS 1999

Wees Fluks!

Spreuke 6:6-19

Genesis 1:26-28.

Die einde van die jaar is in sig, maar daar is nog eindeloos baie dinge wat moet gebeur voordat ons groot vakansie aanbreek en ons daardie millenniumpartytjie kan hou. As daar een ding is wat ons nie kan bekostig nie is dit laksheid.

Dis die een sonde waarteen ek in die laaste 10 jaar nog nooit gepreek het nie.

Waarom nie?

  1. Dalk omdat dit so lekker is om lui te wees. En ’n mens wil nie jouself ongewild maak nie. Die mense wat oor ander se luiheid kla om hulle tot fluksheid en harde werk aan te spoor, is mos die tiranne, die faraos, van die moderne tyd.
  1. Dalk omdat ‘n mens so bang is om mense lui te noem. Volgens die moderne mite van die mens as edele werker glo niemand meer dat daar iets soos ‘n luiaard is nie. Almal is mos edele werkers en elkeen doem mos sy of haar bes. Om mens lui te noem kom baie na aan rassisme. Maar lui mense is hier genoeg. Vir sommige mense moet jy net vra om in tien-minute-werkie te doen, dan is hulle reeds moeg en kla hulle ‘n halfuur lank om jou oortuig dat hulle dit nie kan doen nie.
  2. Dalk het ek vir tien jaar nie teen luiheid gepreek nie omdat ons vandag meer as ooit bewus is van die sielkundige oorsake daarvan. Mense is nie lui omdat hulle wil lui wees nie, maar omdat hulle kreatiwiteit onderdruk word deur die onmenslike strukture waarbinne hulle hulle bevind: ‘n skoolkind is nie lui nie; as hy nie sy werk doen nie, is dit omdat sy skeppendheid en oorspronklikheid onderdruk word deur ‘n verbeeldinglose skoolstelsel wat alle kinders ewe dom wil maak nadat hulle deur die opvoedkundige worsmasjien geprosesseer is. As ‘n werknemer lui is, dan is dit ‘n vorm van lydelike verset teen die feit dat sy selfstandigheid onderdruk word in sy werksituasie.

En so kan ‘n mens aangaan. Tog neem hierdie begrip nie die luiheid weg nie en bied dit geen verskoning nie. Daar is orals mense wat bo hulle omstandighede uitstyg.

Die skrywer van Spreuke is onvleiend in sy skets van die luiaard:

  • 6:6 Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.
  • 6:9 Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan?
  • 10:26 Soos asyn teen die tande, soos rook in die oë, so is ‘n lui mens vir iemand wat hom ‘n opdrag gee.
  • 13:4 Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet.
  • 15:19 ‘n Luiaard se pad is met dorings besaai; ‘n opregte mens het ‘n gelyk pad.
  • 19:15 Luiheid laat ‘n mens diep slaap; ‘n lui mens ly honger.
  • 19:24 ‘n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar bring dit nie terug na sy mond toe nie.
  • 20:4 ‘n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is nie.
  • 21:25 ‘n Lui mens soek sy dood want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie.
  • 22:13 Die lui mens sê: "Daar is ‘n leeu daarbuite. Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!"
  • 24:30 Ek het by ‘n lui mens se land verbygestap ... Dit was heeeltemal oortrek van die onkruid .. Toe het ek daaroor nagedink..: nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie handevou om te slaap en daar kom die armoede by jou aangestap, daar oorval die gebrek jou soos ‘n inbreker sonder dat jy dit kan keer.
  • 26:14 ‘n Deur bly op sy skarnier draai; ‘n luiaard bly omdraai in sy bed.
  • 26:16 Die luiaard dink hy het meer wysheid as sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee.
  • 31:27 Van die knap vrou wat baie meer werd is as edelstene word gesê: Sy hou goeie toesig oor haar huishouding, lui is sy nie. Haar kinders prys haar, haar man bewonder haar.
  • Pred 10:18 Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek.
  • Matt 25:26 - jou slegte en luie dienskneg
  • Titus 1:12 die Kretense is leuenaars, luibuike.

BEREDENERING:

Soos ons in Spreuke lees, is luiheid die oorsaak vir persoonlike armoede. Ons kan dit regtig nie bekostig nie.

Ons word ook armer as volk. Die kwaliteit van dienste en produkte daal amper vinniger as wat die pryse opgaan. Moenie iets om 4 nm op ‘n weeksdag of op ‘n Saterdag 12-uur gedoen probeer kry nie. Dit lyk of ons ‘n nasie van lui amptenare is.

Hoe kry ons werkywer en werklus? Die begeerte tot eerlike harde werk en die vervulling en voorspoed wat dit bring?

Dit sal nie help om dit in die wetboek in te skryf nie. Die enigste land in die wèreld wat ‘n Bybelteks in sy grondwet ingeskryf het, is Rusland. Raai net wat is die teks: "Wie nie werk nie, sal nie eet nie." Dit lyk nie of dit veel help nie.

Luiheid is een van die groot oorsake vir stres en klagtes. Ons is so bang om ons hande uit ons moue te steek dat ons aan stres ly nog voordat ons ‘n vinger gelig het.

Luiheid en bekommernis is maar net twee sye van dieselfde saak. Lui mense is buierig. As ‘n lui mens iets doen, wil hy almal anders ook dit laat doen. En hy soek ‘n geleentheid om te kla. Hulle vertel altyd vir almal hoe baie hulle al in hulle lewe gewerk het. Hulle is altyd ongelukkig. Dis van luiheid wat ons hartkwale en maagsere kry.

Dis tog interessant: lui mense geniet nie ‘n vakansie nie. Hulle het nodig om die skyn voor te hou. Lui mense is altyd moeg. Wie is die gemeentelede wat nie op In Sondag wil rus nie, kamstig nie tyd het om kerktoe te gaan nie? Te besig vir God en sy gebod? Dis die luies! Dis net lui mense wat altyd werk — hulle werk altyd want hulle werk altyd halwe pas.

As daar nou een geval is waar ‘n Bybelteks niemand gehelp het nie, is dit daar!

Waar kry ons fluksheid en werklus as as ons dit nie het nie? Hoe interessant dat fluksheid in ons teks gelykgestel word met wysheid. "Kyk na die miere" - hulle weet van werk. Maar het jy al ooit ‘n mier gesien wat hom doodgewerk het? Ons is verniet bang om ons dood te werk!

Die flukse miere vertel ons van die Skepper wat hulle gemaak het. God het hulle gemaak as voorbeeld vir ons. Hy het die mens geskep om oor die natuur te heers (Genesis 1:28). Dis die mens se kultuuropdrag. Die Skepper het die mens as handelende, skeppende wese geskep. Vanweë die sonde sou die sweet bykom, en deur die genade word die sweet weggeneem, maar die ingeboude aangewesenhleid op skeppende arbeid bly onverswak voortbestaan.

Daar is ‘n stuk evangelie in harde werk. As jy sleg voel, ‘n liefdesteleurstelling gehad het, gekrenk voel oor ‘n afjak by die werk - wat is ‘n beter manier om jouself te wreek deur harde werk. Wat is ‘n beter terapie vir stress as om te werk? Doen iets skeppends. Doen iets vir ander - dit sal dalk vir jou meer werd wees as vir hulle.

Wat sou Jesus hieroor sê? Dit lyk asof hy nie soos die skrywer van Speuke oor luiheid gedink het nie. Martha en Maria se verhaal kom voor asof dit juis ons sin vir waardes wil omkeer. Martha was die een wat die huiswerk gedoen het.

Maria het by Jesus gaan sit en gesels. Toe Martha kla, het Jesus Maria se kant gevat deur te sé: Martha, jy bekommer- jou oor baie dinge; Maria het die beste gekies.

Dit lyk of fluksheid nie so hoog op Jesus se lys was nie, maar kom ons vra bietjie die vraag waarom Martha haar so bekommer en bekla het. Hoekom wou sy hê Maria moes haar kom help? Was sy rie dalk lui nie?

Jesus was ‘n man van die daad. Sy woorde het geruisloos in dade oorgegaan. Net soos die Skepper self. Hy het nie sy kruis uitgestel nie. Dit wat gedoen moes word, het hy op sy tyd gedoen. Dit is die Christelike definisie van fluks: om jou kruis op te neem op die regte oomblik.

Slotsom:

Moenie uitstel nie. Doen iets. Moenie eers begin wonder of jy dit kan uitstel nie.

Wie fluks bid, en fluks dink, doen ook fluks.

Vra ‘n besige mens om iets te doen - en hy sal dit vir jou beter doen as ‘n luie wat ledig is.

Ek is trots as ek dink hoeveel flukse mense hier in die gemeente is: die instandhouding van die kerk, die moeite met sondagskool, basaar ens ens.

Mag julle elkeen die genade ontvang om te doen wat jou hand vind om te doen.

Werk want die nag kom nader! Dalk kom dit nog voor die milennium.

Amen.



Kliek hierbo vir terugvoer of om e-pos adresse deur te gee

Bladsy geskep op 14 Feb 2000 deur Bobby Loubser