Site hosted by Angelfire.com: Build your free website today!

Spreuke van C.J. Langenhoven

Hierdie bladsy is steeds in aanbou; dit word stelselmatig verbeter elke keer wanneer die opsteller minder as vier weke agter is met enige van sy vele projekte. Dit is beplan as 'n non-akademiese, non-historiese, non-pedagogiese, pseudo-literêre blad, gemaak net vir lees, geniet en nadink oor sommige van die wyshede van Langenhoven. Dit is geen omvattende versameling nie, slegs 'n persoonlike keuse van treffende stukkies.

E-pos my gerus by beyers@eng.rau.ac.za om te sê dat u dit toevallig raakgeloop het, en om my so effens aan te jaag met die uitbreiding en voltooiing daarvan. Indien daar genoeg versoeke is, sal ek 'n gedeelte byvoeg oor die geskiedenis van hierdie uitsonderlike skrywer, digter en kampvegter vir Afrikaans.

Aan Stille Waters
Hierdie spreuke lei na skakels wat deur Langenhoven in die Burger gepubliseer is, en later in sy Versamelde Werke  gepubliseer is as "Honderd Prekies". Die opsteller het self dié uitgekies wat vir hom treffend was; ander lesers mag verskil.
(Lees gerus die voorwoord deur die skrywer).
 

Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is dié wat reeds tevore gewys het dat hulle kan byt.

Die mooi weer sal jou nie beskadig omdat jy jou jas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van één kant af beskou.

Skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie.

Moenie jou kinders onskuldige plesier belet nie. Hulle sal dit steel en dan is jy nie daarby om te sien dat hulle nie die skuldige by-steel nie.

As die ander man nie wil die helfte van die pad gee nie, gee jy dan die hele - die een helfte omdat dit jou plig is as sy gelyke, die ander helfte omdat dit jou voorreg is as sy meerdere.

Waardeer jou vrou soos die appel van jou oog. Dis nie 'n geringe saak dat daar iemand is wat onderneem het om haar hele lewe met jou te verslyt nie.

Kyk ieder 'n man waterpas in die oë: jou vader was ook 'n man; maar haal jou hoed vir 'n vrou af, want jou moeder was 'n vrou.

Maak vir die man wat nie omgee nie goeie werk. Die man wat omgee sal dit by hom sien en ook by jou kom bestel.

Dit betéken nie altyd veel om 'n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op 'n begrafnis is die dooi man.

Jou ore is oop as jy hulle nie eksprés toemaak nie, en jou mond is toe as jy hom nie eksprés oopmaak nie. Dit wys die bedoeling van die gebruik daarvan.
 

Algemene Spreuke
Hierdie versameling kom weer eens uit Versamelde Werke van Langenhoven.

Soek om jou gelykes en jou meerderes te oortuig. Jou minderes sal jy onvatbaar vind.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie - jy bederf albei.

Die toets van 'n man is, hoeveel daar nodig is om hom te laat lieg.

Ja is uitstel, nee is kontant.

Verdra die teestander. Al het hy nie reg met sy verskil nie, hy het die reg om te verskil.

Die ongeluk kan jou oorkom om ingedagte jou gedagte uit te spreek.

Mense wat niks doen, doen nie niks nie: hulle hinder dié wat werk.
 

Nota: Daar is besluit om Langenhoven se werk verbatim aan te bied, soos gepubliseer in 1934, ná sy dood. Die leser sal merk dat die spelling van sekere woorde in die Afrikaans van destyds, toe die taal nog relatief jonk was, verskil. Van die akuutaksenttekens, waarvoor Langenhoven lief was, het egter verlore gegaan in die skandeerproses.

Opgestel deur Beyers F. de W. Serfontein
beyers@eng.rau.ac.za
Laaste opdatering: 24 Mei '99

  Net-Afrikaans Een-Stop Web-Sentrum

is die eienaar van hierdie

Net-Afrikaans Web-Kring

Wil u aansluit by die Net-Afrikaans Web-Kring?

[Verby vorige] [Vorige] [Volgende] [Verby volgende] [Verras my!] [Volgende 5] [Vertoon lys